All Blacks kan steeds te sterk wees vir Wallabies

Richie McCaw en Ma'a Nonu met die RugbykampioenskapstrofeeDie Rugbykampioenskap, die toernooi waarna ondersteuners in die Suidelike Halfrond elke jaar die meeste uitsien, is uiteindelik hier.

Dit skop op luisterryke wyse Saterdagoggend om 11:40 (SA tyd) af wanneer die eerste Bledisloe-kragmeting tussen die Wallabies en All Blacks in Sydney gespeel word.

Om eerlik te wees, die Wallabies was verlede jaar (’n behoorlike annus horribilis vir Australiese rugby) geen faktor nie. Hulle het die reeks teen die Britse en Ierse Leeus verloor en voor dit was daar reeds ’n toksiese gees in die span.

Die reeksnederlaag teen die Leeus het Robbie Deans, ’n Nieu-Seelander, se kop geëis en Ewen McKenzie, wat toe die Reds gebrei het, is as die nuwe afrigter aangestel. Die Wallabies kon steeds net vir Argentinië in die Rugbykampioenskap klop. Hulle het in November goed vertoon in Europa met groot seges oor Ierland en Italië en het die toetsreeks teen die besoekende Franse in Junie 3-0 gewen.

Hoewel die Franse nie Nieu-Seeland of Suid-Afrika is nie, het die laaste Wallaby-vertonings in Junie gewys hulle is besig om weer een van die wêreld se topspanne te word. McKenzie is onsentimenteel en het net spelers op vorm begin kies. Daarom het selfs baie van sy ou Reds-gunstelinge – soos Will Genia, James Horwill en Quade Cooper – in onguns verval.

Die Australiese media begin reeds uitbasuin dat vanjaar die jaar is dat die Wallabies die All Blacks troef en vir die eerste keer in meer as ’n dekade die Bledisloebeker lig. Die Waratahs het mos die Crusaders in die Superrugby-eindstryd geklop, skryf hulle.

Sonder om die Aussies heeltemal af te skryf, is hierdie blinde optimisme ongegrond. Hierdie All Blacks het laas jaar die eerste span geword wat al hul wedstryde in ’n kalenderjaar wen. Hulle het al 17 wedstryde in ’n ry gewen en mik nou vir ’n 18de een om ’n nuwe rekord op te stel. HUlle gaan dit waarskynlik in Sydney doen.

Daar is ’n groot verskil tussen ’n span wat besig om terug te keer na hul beste en een wat nou daar is. Selfvoldaanheid is ook nie deel van die All Blacks se DNS nie. Hulle gee 100% om elke wedstryd te wen, ongeag teen wie hulle speel.

Dit is ook verregaande om sukses in Superrugby en op toetsvlak regstreeks met mekaar te verbind. Die All Blacks, ongeag of hulle vir die sukkelende Blues of die immergroen Crusaders speel, raak as ’n kollektief ’n ander gedierte.

‘’n Mens kan egter nie ontken nie dat sukses in Superrugby wel tel nie en Mckenzie se keuses weerspieël dit. Die meeste spelers van die Wallabies se beginspan bestaan uit Waratahs en Brumbies.

En hier troon Israel Folau, die topdrieëdrukker in vanjaar se Superrugby en ‘’n Waratah-staatmaker, as aanvalswapen uit. Terwyl die Wallabies (nes die Waratahs) dus min sal skop, die bal sal behou en teenaanvalle van skoppe af sal wil loods, gaan die All Blacks straks heelwat skop om Folau te probeer neutraliseer. Dit sal waarskynlik nie diep skoppe wees nie, maar korter hangskoppe om hom onder druk te plaas en sodoende omkeerbesit en gebiedsvoordeel te bewerkstellig.

Kurtley Beale, weliswaar ’n openbaring op binnesenter vir die Waratahs, is op losskakel verkies bo Bernard Foley, die ligbloues se nr. 10. Die All Blacks se breier, Steve Hansen, het hierdie besluit bevraagteken en hy kan reg wees (of dis dalk net ’n sielkundige salvo om Beale te ontsenu). Maar Beale is ’n baie groter X-faktor as Foley in hierdie stadium, hy is meer ervare op toetsvlak en sy vorm en selfvertroue is van só ’n aard dat hy gemaklik in albei posisies kan speel. Ek kan nie wag om te sien wat McKenzie hiermee beplan nie.

Die Wallabies het nogtans ’n ander groot swakpunt vergeleke met die All Blacks en Springbokke en dis nienet hul vaste vyf en skrums nie, maar ook op lostriovlak.

Hoewel hulle oor tonne flair beskik, het selfs die Franse hulle vanjaar in die skrunms onder druk geplaas en die All Blacks se stutte is ’n uiters ervare klomp. Boonop is hul lynstaanspringers soos Sam Carter en Rob Simmons nie heeltemal op die peil van die All Blacks se Sam Carter, Kieran Read en Brodie Retallick nie.

Voeg hierby die invloed wat Read, Richie McCaw en Jerome Kaino by die afbreekpunte kan hê, terwyl McKenzie nog probeer besluit wie hy permanent in die nr.6-trui wil inspan, en die Wallabies se flair-voordeel verdamp. Dis nou maar so dat agterspelers nie sonder goeie bal kan speel nie.

Spanne

Australië: 15 Israel Folau, 14 Pat McCabe, 13 Adam Ashley-Cooper, 12 Matt Toomua, 11 Rob Horne, 10 Kurtley Beale, 9 Nic White, 8 Wycliff Palu, 7 Michael Hooper (kaptein), 6 Scott Fardy, 5 Rob Simmons, 4 Sam Carter, 3 Sekope Kepu, 2 Nathan Charles, 1 James Slipper
Bank (een gaan weggelaat word): 16 James Hanson, 17 Pek Cowan, 18 Ben Alexander, 19 Will Skelton, 20 Ben McCalman, 21 Scott Higginbotham, 22 Nick Phipps, 23 Bernard Foley, 24 Tevita Kuridrani

Nieu-Seeland: 15 Ben Smith, 14 Cory Jane, 13 Conrad Smith, 12 Ma’a Nonu, 11 Julian Savea, 10 Aaron Cruden, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read, 7 Richie McCaw (kaptein), 6 Jerome Kaino, 5 Samuel Whitelock, 4 Brodie Retallick, 3 Owen Franks, 2 Dane Coles, 1 Wyatt Crockett

Bank: 16 Keven Mealamu, 17 Ben Franks, 18 Joe Moody, 19 Steven Luatua, 20 Sam Cane, 21 TJ Perenara, 22 Beauden Barrett, 23 Malakai Fekitoa

Afskop: 11:40

Beamptes:

Skeidsregter: Jaco Peyper (SA)
Assistente: Romain Poite (Frankryk), Stuart Berry (SA)
TV: Shaun Veldsman (SA)

 

 

Top of Form

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.