All Blacks kry bonuspunt-sege

Ondanks ’n flou vertoning in die eerste helfte het die All Blacks die Poemas met 33-15 kaf gedraf in La Plata en die veelbesproke bonuspunt gekry wat hulle waarskynlik die Rugbykampioenskapsbeker in 2013 sal laat behou.

Die All Blacks is steeds onoorwonne terwyl die Poemas steeds na hul eerste sege op soek is.

Julia Savea

Julian Savea

Dit beteken die Springbokke moet Saterdag se toets met meer as sewe punte wen, vier drieë druk en die Kiwis tot nie meer nie as drie drieë beperk. Slegs op dié manier kan hulle vyf ligapunte teenoor geen behaal en die trofee op ‘n punteverskil wen.

Ewenwel, die eerste helfte was slordig met die nat toestande wat beide spanne hope hanteeerfoute laat maak het. Die All Blacks was vir die grootste deel van die eerste 40 minute op die agtervoet danksy rotsvaste verdediging en het min gebiedsvoordeel en balbesit geniet.

Nicolas Sanchez het die telbord eerste laat bewe met ’n strafdoel in die negende minuut en Aaron Cruden het die tellings vier minute later gelyk getrek met ’n strafdoel van sy eie. Sanchez het daarna sy span met nog ’n strafdoel laat voorloop: 6-3.

Die All Black-spoedvraat Julian Savea het die enigste drie van die eerste helfte gedruk toe hy ’n los bal in sy eie halfgebied opgeskep en rieme teen die kantlyn neergelê en in die hoekie gedruk het. Cruden het die doelskop verbrou: 8-6.

Cruden en Sanchez het elk met ’n strafdoel geslaag om die rustydtelling ’n naelskraapse 11-9 te maak.

Die tweede helfte het egter heeltemal anders verloop toe die All Blacks hul ritme begin vind het. Marcelo Bosch het Los Pumas se snoete vroeg in die tweede helfte met ’n strafdoel voorgeplaas, waarna Cruden byna dadelik weer die voorsprong die All Blacks s’n met ’n strafdoel gemaak het: 14-12.

Sam Cane het die Nieu-Seelanders se tweede drie gedruk toe die All Blacks die bal wyd laat loop en hy soos ’n wafferse vleuel in die hoekie oorgeduik het. Cruden het die doelskop gemis: 19-12. Ben Smith het kort daarna die Poema-verdediging oopgekloof ná ’n skelm kort aangee deur Ma’a Nonu en langs die pale oorgeduik. Cruden het die maklike doelskop ’n formaliteit gemaak: 26-12.

Sanchez het later ’n strafskop voor die pale oorgeskop: 26-15.
Smith het die bonuspunt vir die All Blacks verseker toe hy in die laaste 30 sekondes van die wedstryd onder die pale gedruk het ná ’n uitmuntende dartellopie. Beauden Barrett het die drie verdoel.

 

Punte:

Nieu-Seeland

Drieë: Savea, Cane, Ben Smith (2)
Doelskoppe: Cruden (1), Barrett
Strafdoele: Cruden (3)

Argentinië

Strafdoele: Sánchez (4), Bosch

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.