All Blacks suur ná hul sege

Foto: 3news.co.nz

Foto: 3news.co.nz

As dit by suur druiwe kom, is die All Blacks voor in die koor – selfs al wen hulle.

Nou is daar weer `n spul senior All Blacks – met Richie McCaw en Kieran Read voor in die koor – wat kla oor die manier waarop die Springbokke die wedstryd sou vertraag het met die wyse waarop hulle Saterdag mediese hulp gekry het.

“Ons wou die wedstryd se tempo lig, maar ek dink hul manier van speel is om dit te doen in die tempo wat hulle pas. Dit het die toets van baie fisiekheid ontneem,” het Read aan die nuusagentskap AAP gesê. “Ek het dit aan die skeidsregter oorgedra en hopelik sal die beamptes volgende keer daaraan aandag gee.”

Tydens die wedstryd is ook gesien hoe McCaw lang gesprekke met die wedstrydbeamptes voer, en dit was seker nie om na hul welstand te verneem nie.

In 2006 het die toendertydse afrigter, Sir Graham Henry, dieselfde klagte gehad oor `n toets wat die All Blacks 35-17 in Wellington gewen het. Hy het bygevoeg dat Suid-Afrika se Superspanne dieselfde taktiek gebruik. Dieselfde klag is vanjaar teen die Engelse toerspan gerig, wat glo te lank gevat het om skrums en lynstane te vorm.

Read het darem bygevoeg dat die gebrek aan vloei – en tog dink almal dit was een van die beste toetse in `n lang tyd! – te doen gehad het met die Springbokke se energieke mededinging by die afbreekpunte.

Sy eweknie, Duane Vermeulen, het hier die weg aangedui met die vasberade wyse waarop hy verdedig en met die bal gedryf het. Dit het die All Blacks dikwels gedwing tot hanteer- en taktiese foute.

♦ En net vir die rekord: Die All Blacks het hul drie teen 14 man gedruk toe François Louw mediese sorg ontvang het sonder dat die spel gestaak is. Dit was ook veel meer as `n skeet, want hy is deur Warren Whiteley vervang.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johannes ·

As Suid-Afrikaanse All Black ondersteuner in SA stem ek saam met hulle maar omdat julle so eenogig is sien julle net raak wat julle wil en SA kommentators dieselfde maar ek moet byvoeg dit gebeur in Currie Beker wedstryde ook.Ek wil ook se dit het niks met suurdruiwe te doen maar feite en ek ook opgelet hoe stadig SA voorspelers by lynestane aankom.Hou dop met oopkop dan sal julle sien waarvan ek praat.

Henk ·

Ek dink beslis nie dit waaroor die All Blacks kla ten opsigte van die wedstryd tempo wat opsetlik vertraag word, is so verregaande nie. Dit is ‘n ou laai van SA spanne daardie en is dikwels opmerklik in veral die Super15 reeks en toetse.
Dit word net vererger deurdat ons pensionarisse in die SA spanne het en dit terwyl daar briljante jong spelers is wat fiks genoeg is om die werk te kan doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.