All Blacks verloor die meeste spelers

Johan Goosen (Foto:  parequetoulon.com)

Johan Goosen (Foto: parequetoulon.com)

Suid-Afrika is nie Europa en Japan se grootste Sanzar-slagoffer wat spelerverliese betref nie.

’n Vergelyking tussen Suid-Afrika, Nieu-Seeland en Australië se spanne van 2014 en 2015 onthul dat die Kiwi’s hul heil die meeste in Europa en Japan gaan soek. Altesame 30 spelers wat vir Nieu-Seelandse spanne in 2014 se Superrugbyreeks gespeel het, het sedertdien na die Noordelike Halfrond vertrek – ’n gemiddeld van ses spelers per franchise.

Australië (24) en Suid-Afrika (25) het altesame 49 spelers só afgestaan vir ’n gemiddeld van 4.8 spelers per span. Dié syfers is steeds taamlik kommerwekkend in ’n Wêreldbekerjaar, hoewel baie van dié spelers dalk te jonk is om die Bokspan te haal en sommiges dalk besef het hulle gaan nie nuwe hoogtes in Suid-Afrika bereik nie en eerder na groener weivelde aanbeweeg.

Aanvaarde wysheid sou dink die Bulls het weer die ergste onder hierdie slagting deurgeloop, maar hulle het naas die Lions die minste spelers aan oorsese klubs afgestaan. Uit die 2014-groep het slegs Paul Willemse (Grenoble), Jono Ross (Stade Français) en Louis Fouché (Ricoh Black Rams) sedertdien vertrek.

Fouché is vroeg reeds in die 2014-seisoen deur Jacques-Louis Potgieter vervang nadat hy erg gesukkel het om sy stempel op Superrugbyvlak af te druk. Ross het nie juis die wêreld aan die brand gespeel nie, maar Willemse was – ondanks sy foute weens sy jeug – een van die Pretoriase span se beste jong vondse.

Gehalte toevoegings tot die Ligbloues, soos Adriaan Strauss en Trevor Nyakane, sal meer as vergoed vir hierdie verliese en die Bulls kan steeds ’n taamlik mededingende span vanjaar laat deelneem.

Die Lions, wie se spelers dalk nog bietjie onbekend aan oorsese klubs is weens hul Superrugby-afwesigheid in 2014, het slegs die veteraanslot Franco van der Merwe (Ulster), die Springboklosskakel Elton Jantjies (NTT Shining Arcs in Japan) en Chrysander Botha (Exeter Chiefs) aan die buiteland verloor.

Die Cheetahs het die grootste verliese gely. Sewe spelers het noord gemigreer sedert 2014 en dan het talle ook na ander Suid-Afrikaanse unies geskuif. Hulle het hierdeur goeie talent en ervaring ingeboet.

Spelers wat vertrek het sluit in Johan Goosen (Racing Métro), Riaan Smit (Oyonnax), Hennie Daniller (Zebre), Philip van der Walt (Biarritz), Ligtoring Landman (Newport Gwent Dragons), Andries Ferreira (Zebre) en Rossouw de Klerk (Glascow Warriors).

Die Sharks en Stormers het elkeen ses spelers aan oorsese klubs gelek en ook húlle het baie waardevolle ervaring, maar ook jeugdige talent, op dié manier verloor.

Wiehahn Herbst (Ulster), Anton Breslar (Edinburgh), Peet Marais (Brive), Jean Deysel (Toyota Verblitz), Keegan Daniel (Kubota Spears) en Charl McLeod (Grenoble) het almal Durban vaarwel geroep sedert 2014 se Superrugbyreeks.

By die Stormers het Pat Cilliers (Montpellier), Brok Harris (Newport Gwent Dragons), Deon Fourie (Lyon), De Kock Steenkamp (Ospreys), Peter Grant (Rochelle) en Gio Aplon (Grenoble) die unie gegroet in ruil vir oorsese kontrakte.

Sover dit die Nieu-Seelandse spanne betref, het die Blues, Chiefs en Hurricanes elkeen sewe spelers aan die Noordelike Halfrond afgestaan. Die Crusaders het vyf verloor en die Highlanders slegs vier.

Dit sluit bekende spelers en voormalige All Blacks soos Piri Weepu, Mils Muliaina, Andre Taylor en Zac Guildford in, asook ander bekendes soos Tyler Bleyendaal en twee van die Whitelock-broers, Adam en George. Die Nieu-Seelandse uittog blyk ná die Wêreldbeker te versnel wanneer All Blacks soos Jeremy Thrush en Ben Franks in Brittanje gaan speel.

In Australië het die Brumbies, Reds en Rebels elk vyf spelers verloor, die Force sewe (dit sou agt gewees het, maar Nic Cummins gaan weer vir hulle speel ná ’n periode in Japan), en die Waratahs slegs twee. Die voormalige Wallabykaptein Ben Mowen het die Brumbies vir Montpellier verruil, die Reds se drieëmasjien Rod Davies is na Biarritz en die Wallaby- en Waratahslot Kane Douglas is na Leinster.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.