All Blacks verniel Wallabies met ses drieë

Ben Smith

Ben Smith

Die All Blacks was Saterdag op hul verwoestende beste in hul 51-20-sege oor die Wallabies op Eden Park in Auckland. Hulle het hiermee die Bledisloebeker met styl behou.

Selfs ’n laat terugvegpoging kon vandag nie die ongelykheid tussen hierdie twee spanne verbloem nie. Die All Blacks het net te veel spoed, krag en begeerte gehad, terwyl die Wallabies ’n amateuragtige vertoning vol hanteerfoute, blinde kolle en voorspelbare aanvalle gelewer het. Die All Blacks het ses drieë teen twee gedruk en ‘n rekordtelling teen die Wallabies in Nieu-Seeland aangeteken.

Enige span se ergste nagmerrie is om met rustyd 17 punte agter te wees teen ’n omgekrapte All Black-span.

Behalwe vir kort opflikkerings van energie, was die Wallabies feitlik konstant in trurat soos die All Blacks die voordeellyn deurpriem en hul voorspelers die botoon in die kontaksituasies gevoer het. Teen die einde van die eerste helfte het die All Blacks 106 aangeë in die duikslag weggestuur (Wallabies: 50), 340 m met die bal gehardloop (Wallabies: 121 m) en die bal 74 keer gedra (Wallabies 35 keer).

Die tuisspan se robuuste dryfmaalbewegings met lynstaanballe het die Wallabies telkens meer as 10 meter teruggeploeg. Hulle het ook ’n magdom strafskoppe afgestaan en Aaron Cruden het drie uit vier strafdoele sekuur deur die pale gejaag.

Dis nie dat die Wallabies nie kanse gegun is om beheer van die wedstryd te neem nie. Richie McCaw is in die 13de minuut ’n geelkaart gewys, maar steeds het die All Blacks omtrent al die balbesit in die besoekers se helfte van die veld geniet.

Net toe McCaw teruggelaat is, het die gevaarligte vir die Wallabies geflikker toe Rob Simmons gegeelkaart is. Eers het die All Blacks hulle hard laat kreun in die skrums en t só ’n strafdrie afgedwing toe Nic White die bal onwettig probeer speel het toe sy pak (weer) geretireer het.

Kort daarna het ’n belowende teenaanval deur Israel Folau in ’n teenaanval deur Aaron Cruden ontaard. Hy het vir Julian Savea aan sy buitekant gehad met te min verdedigers om te keer en die vleuel moes bloot gaan agter die pale gaan afrond nadat sy losskakel die orige verdedigers uitoorlê het. Cruden het albei die drieë maklik verdoel.

Kieran Read het in die 50ste minuut die derde drie gedruk nadat die All Blacks die bal wyd laat loop en Sam Whitelock uiteindelik van die skurmskakelposisie die bal vir hom kon gee sodat hy oor  ’n onbewaakte doellyn kon duik. Cruden se strafdoel en ’n telling van 30-6 het beteken die Wallabies moes bloot vernedering vermy.

Maar die All Blacks wou vergoed vir laas week se geploeter in Sydney en Eden Park se droë veld het hul hoë tempo perfek gepas.

Kaptein McCaw het vinnig twee agtereenvolgende drieë van rolmaalbewegings gedruk en die bonuspunt verseker. Sal hulle dit teen die Springbokke kan doen? Die tyd sal leer.

Die Wallabies het uiteindelik die doellyn in die 61ste minuut oorgesteek in die persoon van Folau. Dit het hulle verder aangevuur en hoewel hulle nie van ’n lynstaan kom oordryf nie, het Hooper van agter die losgemaal weggebreek en langs die pale gedruk. Skielik was die telling ’n meer respektabele 44-20.

Maar Steven Luatua, terwyl die All Blacks weer tot 14 spelers beperk is weens ’n geelkaart aan Ben Franks, het die All Blacks se laaste drie onder die pale ná ’n kort aangee deur Aaron Smith gedruk. Die nimlike Smith het dit verdoel en ’n roemryke sege afgesluit.

Punte

Nieu-Seeland 51: Drieë: Strafdrie, Savea, Read, McCaw (2), Luatua. Doelskoppe: Cruden 5, Smith. Strafdoele: Cruden 3.

Australië 20: Drieë: Folau, Hooper. Doelskoppe: Foley 2. Strafdoele: Beale 2.

Geelkaarte: McCaw, Simmons, Franks. 

Spanne

Nieu-Seeland: 15 Ben Smith, 14 Cory Jane, 13 Conrad Smith, 12 Ryan Crotty, 11 Julian Savea, 10 Aaron Cruden, 9 Aaron Smith, 8 Kieran Read, 7 Richie McCaw (kaptein), 6 Liam Messam, 5 Sam Whitelock, 4 Brodie Retallick, 3 Owen Franks, 2 Dane Coles, 1 Wyatt Crockett
Bank: 16 Keven Mealamu, 17 Ben Franks, 18 Charlie Faumuina, 19 Steven Luatua, 20 Sam Cane, 21 Tawera Kerr-Barlow, 22 Beauden Barrett, 23 Malakai Fekitoa 

Australië: 15 Israel Folau, 14 Pat McCabe, 13 Adam Ashley-Cooper, 12 Matt Toomua, 11 Rob Horne, 10 Kurtley Beale, 9 Nic White, 8 Wycliff Palu, 7 Michael Hooper (kaptein), 6 Scott Fardy, 5 Rob Simmons, 4 Sam Carter, 3 Sekope Kepu, 2 Nathan Charles, 1 James Slipper.
Bank: 16 James Hanson, 17 Pek Cowan, 18 Ben Alexander, 19 Will Skelton, 20 Scott Higginbotham, 21 Nick Phipps, 22 Bernard Foley, 23 Tevita Kuridrani. 

Beamptes

Skeidsregter: Romain Poite (Frankryk)
Assistente: Jaco Peyper (SA), Stuart Berry (SA)
TV: Shaun Veldsman (SA)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.