All Blacks wen toets én reeks

All-Blacks-logo_1087289[1]Die All Blacks het vanaand hul Rugbykampioenskaptitel suksesvol verdedig met ’n 38-27 sege oor die Springbokke op Ellispark in Johannesburg.

Dis die eerste keer in 16 jaar wat hulle daar kon wen en hulle het vanjaar onoorwonne in hierdie gesogte reeks gebly. Hulle het altesame vyf drieë gedruk teenoor die Springbokke se vier en dit is tekenend van die vernouende gaping tussen hierdie spanne se aanvalsvermoë. Die manne in Groen-en-Goud se verdediging en onvermoë om die bal te beskerm was vanaand egter nie op peil nie en was een van die hoofredes hoekom hulle nie die wêreldkampioene kan troef nie.

Die Springbokke sal egter bemoedig wees deur die reusetreë wat hulle hierdie jaar gegee het.  Hulle het die Argentynse Poemas 73-13 afgeransel, goed vertoon teen die All Balcks en behoorlik korte mette van die Wallabies in Suid-Afrika en Doer Onder gemaak.

Die eerste 40 minute sou geen rugbyliefhebber louwarm gelaat het nie en het al die opwinding en waagmoed van ’n tipiese eindstryd opgelewer. Beide spanne het met groot waagmoed gespeel en die tempo van die spel en gees op Ellispark was elektries.

Vanuit ’n Suid-Afrikaanse perspektief het als egter allermins vlot verloop. Die Bokke het baie gebiedsvoordeel en balbesit in die eerste helfte geniet, maar sagte oomblikke het gulde geleenthede laat wegglip. Die All Blacks het boonop drie skitterdrieë voor rustyd gedruk.

Morné Steyn het Ellispark eerste laat dreun met ’n strafdoel ná 10 minute, waarna Ben Smith draaie om en deur die Bok-verdedigingslinie gehardloop het om oor te duik vir die eerste drie. Cruden het dit verdoel: 7-3.

Bryan Habana het daarna gewys hoekom hy steeds een van Heyneke Meyer se staatmakers is toe hy twee keer agter die witlyn gaan kuier het. Eers het Duane Vermeulen ’n gaping uitgebuit en sy aangee met perfekte tydsberekening na Habana gestuur om agter die pale te druk. Direk daarna het Francois Louw vir Vermeulen nageboots deur verdedigers te trek en vir Habana te gee om vorentoe te skop, te vang en te gaan druk. Steyn het die eerste doelskop verbrou, maar die tweede een oorgeklits: 15-7.

Die All Black-ysterman Liam Messam het die punteverskil laat krimp toe hy met behulp van Brodie Retallick oor die Bokke se doellyn gebeur het vir sy span se tweede drie. Cruden het sekuur gekorrel vir die doelskop: 15-14. Messam het ná die rustydtoeter weer so gemaak toe powere lakwerk hom laat deurglip het. Cruden het die All Blacks se sterte verder laat rys met sy geslaagde doelskop: 21-15.

Die tweede helfte het met groot vaart begin soos wat die Bokke die voordeellyn meedoënloos aangeval het. Hul pogings is beloon toe Messam met ’n geelkaart afgestuur is en Fourie du Preez gelyktydig die strafskop gebruik het om die bal by Willie le Roux te kry om te druk. Steyn het die Bokke se neuse weer met die doelskop voorgeplaas: 22-21.

Beauden Barrett het ’n maklike strafdoel deur die pale gejaag om die Nieu-Seelanders die voorsprong te gee: 24-22. Maar dit was die Bokke se superkaptein, Jean de Villiers, se bonuspuntdrie ná byna 60 minute wat Ellispark eufories gehad het: 27-24.

Daardie euforie het skielik in teleurstelling ontaard toe Barrett deur talle Bokhande gedans het om sy span se vierde drie te druk en die Rugbykampioenskaptitel vir sy span te behou. Hy het dit op die koop toe ook verdoel: 31-27. Die klas van die All Blacks is verder bewys toe Kieran Read die vyfde drie gedruk het nadat Ben Franks afgestuur is en hulle met 14 spelers moes klaarkom. Barrett het die telling 38-27 met sy doelskop gemaak.

Puntemakers:

Springbokke:

Drieë: Habana (2), Le Roux, De Villiers

Doelskoppe: Steyn (2)

Strafdoele: Steyn

Nieu-Seeland:

Drieë: Ben Smith, Messam (2), Barrett, Read

Doelskoppe: Cruden (3), Barrett (2)

Strafdoele: Barrett

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.