All Blacks klop moedige Poemas

new_zealand_all_blacks[1]

Die All Blacks het ’n begeesterde Argentinië in Hamilton  in hul Rugbykampioenskapkragmeting met 28-13  geklop.

Die telling vlei die Nieu-Seelanders, wat nie ’n vierde drie vir ’n bonuspunt kon druk nie. Die Argentyne het ondanks heelwat minder gebeidsvoordeel die All Blacks se giftige aanvalle beperk en self gevaarlik op die aanval gelyk.

Die Poemas se Juan Manuel Leguizamon, wat twee weke gelede ook sy span se eerste drie teen die Springbokke in Mendoza gedruk het, het in die eerste helfte weer só gemaak teen die All Blacks. Die All Black-debutant Francis Saili het die bal aangeslaan, waarna die Poemas dit opgepik en met puik ondersteuende spel deur Leguizamon afgerond het. Nicolás Sánchez het die telling 7-0 gemaak.

Dan Carter, wat met slegs 2 uit 5 doelskoppe in die eerste helfte kon slaag, het kort daarna sy span se rekening met ’n strafdoel geopen.

Die All Blacks het daarna feitlik elke faset van die spel in die eerste 40 minute oorheers. Hulle het  die Suid-Amerikaners veral in die lynstane gefrustreer en hope gebiedsvoordeel bewerkstellig. Die Argentynse haker, Eusebio Guinazu, is boonop in die 24ste minuut koelkas toe gestuur nadat hy die bal in die losgemaal vanuit ’n onkantposisie gespeel het.

Die All Blacks het nie gewag om hierdie voordele in punte te omskep nie. Kieran Read het om die steelkant van ’n skrum naby die Poemas se doellyn gebreek, die enigste twee verdedigers behendig geflous en ’n wonderbaarlike aangee na ’n haastige Aaron Smith gestuur, wat in die hoek afgerond het. Carter het die twee punte bygevoeg: 10-7.

Aaron Smith het byna oombliklik weer gedruk nadat Ben Smith die bal vorentoe geskop het en hy in die harwar en mistastings deur ’n paar spelers afwaartse druk op die bal agter die doellyn kon kry: 15-7.

Kort  voor rustyd het die All Black-kaptein, Richie McCaw, sy span ’n strafskop op die hals gehaal toe hy in die losgemaal ingeduik en nie weggerol nie. Sánchez het die rustydtelling 15-10 gemaak.

Carter het sy span se voorsprong  verder gerek met ’n strafdoel in die 50ste minuut: 18-10.

Die reën het ook tydens hierdie periode van die wedstryd hard begin neerstuif. Die Poemas se skrum het die oorhand begin kry, hulle het meer in die All Blacks se helfte gespeel en Sánchez het die telling met ’n strafdoel 18-13 gemaak.

Read het egter kort daarna ’n steekskoppie van Aaron Smith gevang en ’n kraglopie teen die kantlyn van stapel gestuur. Hy is naby die doellyn deur desperate Poema-verdedigers platgetrek, maar die All Blacks het die bal met presisie in die agterlyn laat loop en Julian Savea het afgerond. Carter het die telling  25-13 gemaak.

Beauden Barrett het sowat 20 minute later die laaste punte van die wedstryd aangeteken toe hy ’n strafdoel oorgeklits het nadat die Poema-kaptein, Juan Martin Fernandez Lobbe, vir Saili sonder die bal gepla het.

Punte:

All Blacks:

Drieë:; Aaron Smith (2), Julian Savea

Strafdoele: Carter (2), Beauden Barrett (1)

Doelskoppe: Carter (2)

Argentinië:

Drie: Juan Manuel Leguizamon

Strafdoele: Sánchez (2)

Doelskoppe: Sánchez (1)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.