Blair krap kop oor Murphy se reëltoepassing

Mike Blair meen Frank Murphy (voor) kon Edinburgh se skrummomentum beter beloon het. Foto: Hansie Linde.

Mike Blair meen dat die Edinburgh-voorry van Pierre Schoeman, Stuart McInally en WP Nel die skrumsepter teen die Stormers in Kaapstad geswaai het.

Tog het Frank Murphy (skeidsregter) hulle nie vir hul oorheersing beloon nie.

“Ek is verbaas dat daar nie meer strafskoppe teen die Stormers toegeken is nie. Ons skrum is een van ons sterk punte en ons kon goeie momentum daardeur opbou,” het die Edinburgh-afrigter gesê.

“Ons het dié fase van die spel oorheers en ons moes daarvoor beloon word.”

Hy egter die tuisspan vir hul deursettingsvermoë geloof. Die Stormers het ʼn agterstand van 10 – 0 uitgewis om die wedstsryd uiteindelik met 34 – 18 te wen.

“Hul lostrio beskik oor uitstekende individuele vaardighede, terwyl ʼn span dit nie kan bekostig om vir hul agterspelers enige ruimte te gee nie.  Daarbenewens is hulle sterk verdedigers wat jou nie net onder druk plaas nie, maar ook uit jou foute kan munt slaan.”

“Dit is hoe die Stormers uiteindelik die wedstryd gewen het. Maar as ons op die regte manier vir ons vertoning in die skrums beloon was, sou ons sake ʼn bietjie beter onder beheer gehad het,” het Blair afgesluit.

Edinburgh speel Vrydag teen die Lions, terwyl die Stormers teen Zebre al kragte meet.

  • VRK-punteleer
  1. Leinster 14 punte
  2. Bulls 14 punte
  3. Ulster 11 punte
  4. Stormers 10 punte
  5. Sharks 9 punte
  6. Benetton 9 punte
  7. Lions 9 punte
  8. Ospreys 9 punte
  9. Edinburgh 7 punte
  10. Munster 6 punte
  11. Glasgow Warriors 5 punte
  12. Dragons 5 punte
  13. Cardiff 4 punte
  14. Zebre 4 punte
  15. Scarlets 3 punte
  16. Connacht geen punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.