Blaser maak blapse op Loftus

Bulls vs Sharks (foto: GB Jordaan)

(Foto: GB Jordaan)

Dis nogal ironies as tegnologie ingespan word om uitsluitsel te gee oor 50/50-beslissings, maar dan tot nog groter kritiek lei.

Die afgelope naweek was `n sprekende voorbeeld daarvan toe die vere op Loftus Versfeld gewaai en die Bulls die Sharks afgebring het aarde toe en 43-35 geklop het.

Gedane sake het geen keer nie … vyf punte in die sakkie vir die Bulls, nul vir die Sharks – nie eens `n bonuspunt nie.

Kyk, dis baie maklik om voor jou televisiestel te sit en beslissings te bevraagteken. Jy, en die ontleders in die Supersport-ateljee – Naas Botha, Nick Mallett en Ashwin Willemse in dié geval – het die voordeel dat die voorval verskeie kere herhaal word, omkring word en dan kan almal “rustig” daarop kommentaar lewer.

Op die veld is dit nie so maklik nie. Die skeidsregter het net twee oë wat deur 30 spelers tot die uiterste getoets word. Maar hy het darem die hulp van twee assistentskeidsregters om onder meer te beslis of ‘n aangee vorentoe was, of die bal wel agter die doellyn gedruk is, of daar nie obstruksie gepleeg is nie en of daar nie ‘n aanslaan was in die aanloop tot ‘n drie nie.

In die meeste gevalle word dit na die vierde beampte in ‘n skeidsregterlosie verwys wat die voordeel van verskeie kykweers op televisie het en sy besluit op grond van tegnologie moet maak.

Dit was die ou-ou storie. Die Bulls, wat gewen het, het nie gekla nie (hoekom sou hulle?) en hul kaptein, Pierre Spies, het gesê dat die 50/50-beslissings na hulle kant toe was.

Maar die Sharksafrigter, Gary Gold, was ontsteld en het by die randjie omgedraai om deur Saru aangekla te word omdat hy dit durf waag om kritiek uit te deel.

Op die oog op was daar drie omstrede gevalle:

  1. Die bal wat (volgens feitlik almal) vorentoe deur Jesse Kriel  na Francois Hougaard aangegee is en tot sy drie gelei het.
  2. Die beslissing wat bepaal het dat Odwa Nungane die bal aangeslaan het toe hy ná `n hoë skop daarom meegeding het en dit tot ‘n onwettige drie vir die Sharks gelei het.
  3. En dan was daar die beslissing deur die skeidsregter, Jaco van Heerden, wat bepaal het dat  Francois Hougaard wel sy eie skop opgevolg het (hy het egter teruggeval) en so sy voorspelers (wat beslis  onkant was) aan kant geplaas het. Die bal het nie eens tien meter getrek nie en nie een speler (behalwe Hougaard) het teruggeval nie. Hoekom het die assistentskeidsregters, Rohan Hoffman of Ben Crous, hom nie daarop gewys nie?

Dis nie suur druiwe omdat die Sharks verloor het nie. Die Bulls het die eerste keer vanjaar nie van die vloer af geëet nie. Hulle was passievol, hulle het die Sharks se nerwe afgeduik en hulle het die bal lug gegee. Dieselfde vrae sou gevra word as die Bulls verloor het.

My vraag is of Saru, of Sanzar, gaan optree teen beamptes wat blapse maak. Ja, van hulle is in die verlede daaroor geroskam en van panele afgehaal, maar dis te laat, want sulke beslissings kan ‘n afrigter se kop op `n blok plaas en sy span se kanse erg beduiwel om tot die uitspeelrondes deur te  dring.

Dis menslik om foute te begaan, maar dis hoekom die tegnologie ingespan word om beamptes (en die media, kommentators, afrigters, spelers en ondersteuners) te help. Om dan nog `n klaarblyklik ooglopende fout te begaan, maak mos nie sin nie.

In die verlede sou die skeidsregterbaas, André Watson, op die betrokke Maandag- of Donderdagaand op SuperSport aan ons leke verduidelik het wat die kap agter die byl was. Maar dit lyk mos of sy mond gesnoer is. Is dit dalk oor voortslepende klagtes (is dit `n tugverhoor?) wat die skeidsregters oor hom aanhangig gemaak het? Is dit omdat hy hulle tydens wedstryde (rustyd) gebel het en uitgetrap of geloof het?

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Knersus D ·

Hi shame, die bulle het regtig hierdie wen nodig gehad en al 4 skeidsregters het saamgestaan om hulle te laat wen. Dankie!!
(Bulle spel was marginaal beter, maar ek dink die Sharks is gespyker! -Sorry Sharks maar dit was die bulle se beurt – dankie weereens aan die skeidsregters! My plaas is oop, kom kry vir julle elkeen ‘n koedoekie!)

werre ·

Ek is bitter bly ons bulle het gewen. Weliswaar met die hulp van swak skeidregters, maar check die telbord. En julle 4 skeidsregters kan elkeen ook ‘n koedoe om my plaas kom skiet.. Dankie!!

Henry ·

Haai foeitog!
Daar was reeds talle “vorentoe aangee” drieë wat deur TV skeidsregters en hul helpers oor die jare heen toegeken is en wat met ‘n doodse stilte begroet word. Wanneer die Bulle egter by uitsondering,soos Saterdag, baat vind by sulke beslissings, teem en kerm elke “kenner” dat die biesies bewe.
Wat het geword van ou Bismarck se vuil-uil aanval op Matfield??? Hy moes minstens ‘n geel kaart ontvang het. Laaaankal te groot vir sy skoene…
Nee wat. Die Bulle het Saterdag by tye soos Bulle gespeel en dit was meer as genoeg om die Natallers se swakpunte en gebreke uit te buit.
Kry vi’ djulle!!!

Klein Kraai ·

Ek het die afgelope paar weke waargeneem dat min skeidsregters die reel toepas waar die skopper of iemand agter die skopper die spelers aankant moet plaas. Die 10 meter radius is eintlik ‘n yslike gebied wat ontruim moet word deur die aanvallende span se spelers wat hulle daar bevind.

Martin ·

Wat van die miljoene skewe ingooie in die lynstane deur Bismarck

James Ellis ·

Ek dink werklik Jaco van Heerden het al drie lande se skeidsregters oortef met sy swak beslissings. Gun wonder die twee ander lande se onderstueners in die Superrugby Kompetisie lag vir ons beamptes nie. Hulle is self verantwoordelik vir die grap wat hulle van die spel maak. Miskien wil hulle ook maar hul stempeltjie iewers afdruk.

Voorts moet ek meld dat ek nie a Sharks ondersteuner is nie.

Billy Johnston ·

Dit was Jaco van Heerden se eerste super wedstryd. Die assistent skeidsregters behoort hom op foute te wys.

Dawid J Pieterse ·

Ek het nog nooit ‘n wedstryd gesien waar ‘n skeidsregter geen foute gemaak het nie en die ovaal bal wat soos ‘n sokkerbal perfek gewip nie. Die menslike faktor is deel van die spel. Is ‘n aanslaan deur ‘n speler nie ook ‘n menslike fout nie? Een ding was seker: Ons het goeie rugby gesien van beide spanne en dis seker waaroor dit gaan al is wen ook belangrik in die beroepsera. Tegnologie het ook beperkinge. Dit was lekker om te kyk.

Anton Le Roux ·

Ai die vermoe van somige mense om die dam onder die eend uit te ruk.Dink mooi die bal wat saam n speller se momentum gaan moet nou,as dit uitgegee word, skielik in die lug gaan stil staan. Die uitgee is dan ook deur die die tv.skydsregter as n “drifting pass “uitgewys.Die uitgee het verdag gelyk omdat dit naby n reguit lyn was en n mens duidelik die momentum van die bal kon waarneem. Ai mense balle het nie brieke nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.