Bledisloe-toets: All Blacks trap Wallabies se tjank af

Argieffoto van Nieu-Seeland se Julian Savea (regs) en Tevita Kuridrani van Australië (8 Augustus 2015) (AP Photo/Rick Rycroft, File)

Die Springbokke sou soos lammers ter slagting gelei gewees as hulle die naweek na Australië vertrek het vir die Rugbykampioenskap.

Dit is al afleiding wat ʼn mens kon maak nadat die All Blacks gister in ʼn volgepakte Edenpark in Auckland die Wallabies met 27-7 afgeransel het in die tweede Bledisloe-toets nadat hulle rustyd met 10-7 voor was.

Vergelyk die sjampanjerugby wat in die eerste helfte uitgestal is, met die getjommel van ons spanne in SuperSport se Unlocked-reeks.

Daar was geen ander keuse nie, die fiksheid en samespel van die onvoorbereide Bokke sou beslis gelol het en om in twee weke in Australië in kwarantyn te gewees het om voor te berei, sou geen waarde tot Springbokrugby of die Rugbykampioenskap toegevoeg het nie.

Verlede naweek het die Wallabies hul man gestaan en die All Blacks met ʼn gelykopsuitslag van 16-elk in die eerste toets geskok.

Maar soos telkemale in die verlede, het die All Blacks die stang vasgebyt, net ná rustyd eerste punte aangeteken en kon die Aussies nie meer keer nie.

Daar was verskeie hoogtepunte en keerpunte, met een van die grootste hoogtepunte wat deur die opdrafdebutant-vleuel, Caleb Clarke, gelewer is.

Die 21-jarige Clarke is die seun van Eroni Clarke, wat in 1992 saam met die All Blacks deur Suid-Afrika getoer het. Eroni het baie vaardighede gehad, maar Caleb (107 kg) is baie beter en kan een goue seuns van Nieu-Seeland rugby word. Trouens, daar staan reeds Jonah Lomu op sy voorkop geskryf, hoewel hy meer vaardigehede as Lomu het. Hy het agt keer op loop gegaan, 123 meter met die bal gevorder en deur tien Wallaby-duikslae gebars. Boonop kan hy systap en aftrap, netsoos sy pa.

Dan het Anton Lienert-Brown op senter die beste uit Jack Goodhue gehaal en het die twee Barrett-broers, Beauden en Jordie, baie waarde toegevoeg.

Voorlangs het All Blacks die oorhand oor die Wallabies in die skrums gehad en was Sam Cane en Ardie Savea in die vastelos eenrigtig-verkeer.

Aan die Wallaby-kant was daar nie te veel uitblinkers nie, want hulle is deur die All Blacks oorheers en gewurg. Tog kon ʼn mens sien waarheen die nuwe afrigter, Dave Rennie, mik. Die span gaan nie net takties speel nie en baie meer met die bal hardloop.

Diepte kan hulle weer kniehalter, maar daar is ʼn hele paar vaardige spelers wat weet hoe om aan te val en drieë te druk.

Nou lê die Rugbykampioenskap voor, ʼn Drienasiesreeks tussen die All Black, Wallabies en Argentynse Poemas.

As dit van Sondag se wedstryd afhang, gaan daar net een wenner wees.

Punte: Nieu-Seeland 27 (10): Drieë: Aaron Smith, Jordie Barrett, Ardie Savea, Sam Cane. Doelskop: Richie Mo’unga (2). Strafdoel: Mo’unga.

Australië 7 (7): Drie: Marika Koroibete. Doelskop: James O’Conor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans ·

Die wind is uit die Wallabies se seile gehaal toe twee pogings om ‘n drie aan te teken misluk het.Hulle was nie so swak as wat die telling aandui nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.