Bledisloetoets: is dit afgewater of gaan die vonke spat?

Daar is op die oog af nie baie op die spel in Saterdag se derde Bledisloetoets tussen die Wallabies en die All Blacks (11:30) in Brisbane nie, maar dit is gewis nie die geval nie.

Die All Blacks het reeds die trofee behou nadat hulle vanjaar se eerste twee wedstryde gewen het, maar daar sal steeds geen genade gegee of betoon word nie. Ons weet dit mos al lankal dat die Aussies en Nieu-Seelanders  geen ooghare vir mekaar het nie.

Kom ons begin heel voor. Die Aussies beweer daar is die eerste keer in 1931 op Edenpark om die trofee meegeding. Daar is immers ʼn skildjie (wat die wenners op die trofee aandui) op die beker om dit te bewys.

Aikona, sê die Nieu-Seelandse Rugbyunie. Lord Bledisloe, die destydse Britse goewerneur-generaal in Nieu-Seeland, het eers in 1932 opdrag gegee dat ʼn trofee ontwerp moet word en dis in Londen deur Walker en Hall vervaardig.

Die All Blacks het die beker in 1932 die eerste keer gewen toe hulle twee van die drie toetse op hul Australiese toer gewen het.

Om die een of ander rede word daar nie elke jaar om die Bledisloebeker meegeding nie. Soms is daar vier wedstryde in ʼn jaar gespeel, soms drie, soms twee. Toetse is al in Hongkong en Tokio gespeel en die hedendaagse neiging is drie toetse (waarvan twee deel van die afgelope Rugbykampioenskap was).

Dis geen verrassing nie dat die All Blacks die beker reeds  45 keer gewen het (jy moet twee van die drie toetse wen om die trofee te behou of te verower) en die Wallabies net 12 keer.

Watter kans het die Wallabies om die wedstryd-segetog van die All Blacks te stuit?

Ek glo baie goed, want die All Blacks het in hul afgelope toets teen die Bokke met 25-24 deurgeskraap en het ook nie in die toets in die Rugbykampioenskap in Dunedin teen die Wallabies oortuig nie.

Ja, daar was tussendeur die sege van 57-0 oor die Bokke in Albany en hulle het die Wallabies met 54-34 in Sydney geklop.

Maar hulle speel sonder Beauden Barrett, Brodie Retallick en Ben Smith. Boonop is Israel Dagg, Nehe Milner-Skudder, Joe Moody en Owen Franks beseer en het ʼn paar spelers soos Aaron Cruden en Charlie Faumuina  oorsee verkas.

Ook, wat sal gebeur as die losskakel Lima Sopoaga kleitrap?

Maar dis dalk alles net strooihalms waarna die Wallabies gryp.

Die spanne –

Australië
Israel Folau, Marika Koroibete, Tevita Kuridrani, Kurtley Beale, Reece Hodge, Bernard Foley, Will Genia, Sean McMahon, Michael Hooper (kaptein), Jack Dempsey, Adam Coleman, Rob Simmons, Sekope Kepu, Tatafu Polota-Nau, Scott Sio. Bank: Stephen Moore, Tom Robertson, Allan Alaalatoa, Lukhan Tui, Ned Hanigan, Nick Phipps, Samu Kerevi, Henry Speight.

Nieu-Seeland
Damian McKenzie, Waisake Naholo, Ryan Crotty, Sonny Bill Williams, Rieko Ioane, Lima Sopoaga, Aaron Smith, Kieran Read (kaptein), Sam Cane, Liam Squire, Scott Barrett, Sam Whitelock, Nepo Laulala, Dane Coles, Kane Hames. Bank: Codie Taylor, Wyatt Crockett, Ofa Tu’ungafasi, Patrick Tuipulotu, Ardie Savea, TJ Perenara, Anton Lienert-Brown, David Havili.

Skeidsregter: Wayne Barnes (Engeland).
Assistent-skeidsregters: Marius van der Westhuizen en Egon Seconds (albei Suid-Afrika).
Televisieskeidsregter: Marius Jonker (SA).

Afskop: 11:30.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.