Blits-skok: Sewesspan nou 7de op punteleer

Die Blitsbokke is tans sewende op die HSBC-punteleer. Foto: Twitter.

Laat ons nie doekies omdraai nie: Dit gaan tans nie goed met die Blitsbokke op die internasionale sewesverhoog nie.

Ná ʼn getjommel in Los Angeles kon hulle die afgelope naweek net drie punte bymekaarskraap in die Vancouver-toernooi; hulle het 13de geëindig nadat hulle onder meer teen Kenia vasgeval het.

Dit was die Suid-Afrikaners se swakste vertoning in die Kanadese stad nadat hulle reeds drie keer vantevore met die louere daar weggestap het.

Daar was beslis nie veel van Sandile Ngcobo se regrukpraatjies in die aanloop tot die toernooi te bespeur nie.

Die Blitsbok-hoofafrigter het nou beloof dat die spanlede hul uiterste bes sal doen om weer op die wenpad te kom.

“Om te wen is ʼn gewoonte en ek dink dat verloor ook ʼn gewoonte kan word as ʼn mens nie indringend uit daardie gat probeer klim nie. Daar was hier en daar ʼn paar goeie oomblikke op die veld gewees, maar ons kon glad nie daaruit munt slaan nie,” het hy gesê.

Volgens die oudspeler sal daar beslis weer skouer aan die wiel op die oefenveld gesit word.

Terselfdertyd het die span ook ʼn rits spelers aan beserings afgestaan. Selvyn Davids, Ronald Brown, Dewald Human, Justin Geduld, Shaun Williams en Jadion Baron sukkel almal tans met die een of ander skeet.

Ngcobo het egter ook hand in eie boesem gesteek.

“Ons sal ontleed wat skeefgeloop het en dan dienooreenkomstig optree. Ek is self in die voorste linie – dinge begin immers by die bestuur. Kon ons dalk iets anders gedoen het? Dalk vanuit ʼn plaasvervanger- of voorbereidingsoogpunt?”

Die sewespad word ook nie makliker by die volgende toernooi in Hongkong nie. Die Blitsbokke sal teen Ierland, Nieu-Seeland en Kenia in hul groep te staan kom.

HSBC-sewespunteleer:

  1. Nieu-Seeland: 120 punte
  2. Argentinië: 108 punte
  3. Frankryk: 95 punte
  4. Fidji: 94 punte
  5. Australië: 94 punte
  6. Samoa: 89 punte
  7. Suid-Afrika: 89 punte
  8. Ierland: 83 punte
  9. VSA: 81 punte
  10. Groot-Brittanje: 57 punte

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Leon ·

Met huidige span keuses en nuwe afrigter kom dit nie as n verrassing nie

Chris ·

Ek vra net een vraag. Wie is die afrigter van die span? ‘n Vis vrot van sy kop af. Die spelers kan hulself nie kies nie.

Watsenaam ·

Wie sê sport is maklik. Ons lewe in n professionele aria,
waar sport uiters kompeterend is. Hou moed bokke, julle is ‘n nuwe span met hope talent. Rome is nie in eendag gebou nie. Sterkte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.