Blitsbok-Branco bult spiere in sy motorhuis

Branco du Preez. (Foto: Ashley Vlotman/Gallo Images via ANA).

Terwyl die meeste Suid-Afrikaners die afgelope sewe weke in ’n staat van inperking weens die Covid-19-pandemie is, is die Blitsbokke reeds nege weke lank in afsondering.

Die span het Februarie ná die sewestoernooie in Los Angeles en Vancouver na Suid-Afrika teruggekeer en moes terstond vir 14 dae in selfisolasie wees. Die dag ná die twee weke is die afsonderingstydperk deur pres. Cyril Ramaphosa aangekondig.

Tog maak Branco du Preez – ’n veteraan van 75 toernooie saam met die Blitsbokke – die beste van die saak.

“Ek het sommer met die intrapslag besluit dat my fiksheid nie in die slag sal bly nie. Gelukkig is my motorhuis ’n amperse veilige hawe vir my en ek oefen taamlik gereeld daar op my eie,” het Du Preez gesê.

Moet ook nie dink dat die afwesigheid van gimnasiumtoerusting hom enigsins kniehalter nie.

“Ek maak sommer van motorbande gebruik, terwyl ek waterbottels ook as gewigte aanwend; dit werk soos ’n bom!”

Die Blitsbokke se fiksheid is juis een van die sleutels tot hul sukses – daar was al ’n hele paar geleenthede waar hulle wedstryde in die doodsnikke beklink het.

Du Preez onthou drie van dié geleenthede; en vreemd genoeg het hulle in al drie kere ’n agterstand van 19-0 uitgewis.

In hul jongste poging het hulle Fidji met 29-24 in ’n dramatiese eindstryd in Los Angeles getroef.

En moet ook nie dink dit is blote toeval dat die Blitsbokke hierdie wedstryde wen nie; hulle berei vir sulke situasies voor.

“Ons oefen ongelooflik hard en probeer wedstrydscenario’s op die oefenveld naboots. Daar is nêrens plek om weg te kruip nie; jou spanmaats motiveer jou wanneer jy ’n moeilike dag het.

“Wanneer ek in my motorhuis oefen, probeer ek om dit met dieselfde intensiteit te benader.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.