Blitsbok kry dosyn in Italiaanse rugby

Stef Basson – dosyn punte. (Foto: I Medicei)

ʼn Gewese Blitsbok het Saterdag ’n dosyn punte met die voet vir sy klub in die Italiaanse Super 10-liga aangeteken.

Stef Basson (heelagter) het twee strafdoele en twee skepdoele vir I Medicei in sy sege van 49-10 oor Mogliano deur die pale gejaag.

Hy is ook ʼn hulpafrigter van die klub, wat ʼn nuweling in die voorste Italiaanse reeks is.

Carel Greeff (flank), wat Superrugby vir die Cheetahs gespeel het, het een van die wenspan se drieë gedruk.

Michael van Vuuren (slot) het ’n drie vir San Dona in sy sege van 27-20 oor Lazio gedruk.

Hy is in Oos-Londen gebore, maar speel sedert 2011 in Italië, en het Opkomende Italië al verteenwoordig.

Nog ’n slot met Suid-Afrikaanse wortels, Armand du Preez, het ’n drie vir Reggio teen Fiamme Oro Roma, die Italiaanse polisiespan, gedruk.

Die geregsdienaars het met 27-13 gewen.

Die 2,05 m lange Du Preez is die seun van die Junior Springbok-slot Armand du Preez.

Gepraat van Suid-Afrikaners wat die aandag in Italiaanse rugby trek: In weerwil van die Cheetahs se jongste sege van 24-23 oor Zebre in die Pro14-reeks is die agt verdedigers wat Zebre se Johan Meyer in die kragmeting geklop het die meeste deur enige speler in die afgelope ronde van die reeks.

Meyer, wat Curriebekerrugby vir die Sharks gespeel het, se vertoning is onder meer as “groots” bestempel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.