Blitsbok-tuimeltreinrit in Vancouver

Die Blitsbokke sal vanaand op hul beste in die finale groepwedstryd teen Ierland in Vancouver moet wees. (Foto: X/Blitsbokke)

Die Blitsbokke se eerste twee wedstryde by die Vancouver-sewestoernooi was omtrent vir jou ʼn tuimeltreinrit.

Die Suid-Afrikaners se goeie vertoning teen Nieu-Seeland het vir die perfekte aanloop tot die aksie gesorg en hulle het die Kiwi’s met 21 – 12 geklop.

Die vlugvoetige Selvyn Davids het twee drieë gedruk, terwyl die belowende Tristan Leyds ook sy waarde tot die span met ʼn drie onderstreep het.

Maar die vreugdevure is egter net ʼn paar uur later uitgedoof toe die Blitsbokke met 17 – 12 teen Groot-Brittanje vasgeval het.

Om dinge vinnig in perspektief te plaas – Suid-Afrika beklee tans die vierde plek op die HSBC-sewesleer, terwyl die Britte die houtlepel in die 12de plek rondswaai.

Die verrassende nederlaag beteken dat die Blitsbokke se lot nou in hul eie hande is en hulle sal met Ierland in hul finale groepwedstryd moet afreken om vir die bekeruitspeelwedstryde te kwalifiseer.

Suid-Afrika sukkel tans met sy bestendigheid op die internasionale sewesverhoog en die spelers kan dit nie meer bekostig om momentum net so op ʼn skinkbord prys te gee nie.

  • Puntemakers:

Suid-Afrika teen Nieu-Seeland

Suid-Afrika (21): Drieë: Selvyn Davids (2) en Tristan Leyds. Doelskoppe: Davids (2) en Leyds.

Nieu-Seeland (12): Drieë: Cody Vai (2). Doelskop: Akuila Rokolisoa.

Suid-Afrika teen Groot-Brittanje:

Groot-Brittanje (17): Ethan Waddleton, Tom Williams en Robbie Ferguson. Doelskop: Kaleem Barreto.

Suid-Afrika (12): Drieë: Shelton van Wyk en Impi Visser. Doelskop: Justin Geduld.

  • Suid-Afrika speel vanaand om 23:05 in sy finale groepwedstryd teen Ierland. Die wedstryd word regstreeks op SuperSport uitgesaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.