Blitsbokke afgebring aarde toe

Australië het die Blitsbokke 29-22 afgeransel. (Foto: Springbok Sevens/Twitter)

Dít het niemand verwag nie.

Nadat die Blitsbokke die Londense sewestoernooi op die eerste dag onoorwonne afgesluit het en een van die spogspanne was, is hulle Sondag in die eerste kwarteindstryd met 29-22 deur Australië geskok.

Dinge het die afgelope maand of twee só voorspoedig vir die Blitsbokke verloop.

ʼn Jong geslag het na vore getree, die spelers het mekaar aangevul, hul lywe vir mekaar op die spel geplaas en geleenthede vir hul spanmaats geskep.

Dit was ʼn lus vir die oog om die Blitsbokke in aksie te sien, maar toe verval hulle in dieselfde groef as in die verlede om in die uitspeelrondes die kluts kwyt te raak.

Ewe skielik kon die Blitsbokke nie die Aussies se afskoppe bemeester nie en het hulle sodoende onnodig besit afgestaan.

In sewesrugby moet jy besit behou, uit en gedaan.

Van die rotsvaste verdediging was daar ook nie veel sprake nie, want die Aussies het darem te maklik deurgebars.

Ook by die afbreekpunte was daar leemtes. Waar was die dringendheid en passie van Saterdag se uithaler-vertonings teen Japan, Kanada en Argentinië?

Die enigste sprankie hoop was dat daar ná rustyd ʼn omwenteling sou wees, dat die ervare Werner Kok, Justin Geduld en Branco du Preez jongelinge soos Muller du Plessis, JC Pretorius en Impi Visser sou aanspoor.

Maar dit het nie gebeur nie en die drome om op Twickenham te seëvier het soos mis voor die son verdwyn, veral nadat Pretorius op die doellyn van ʼn drie beroof is toe hy deur die kleine Maurice Longbottom geloop is en die bal verloor het.

Maar dalk het die nederlaag op die regte tyd gekom. Dalk is dit die regte medisyne, want die jongelinge sal besef dat daar niks op ʼn skinkbord weggegee word nie.

Jy is net so goed soos in jou laaste wedstryd, veral in sewesrugby, waar een of twee verbroude duikslae, een of twee verbroude aangeë en een of twee swak besluite die verskil tussen wen en verloor beteken.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

Die Blitsbokke is deur Australië by die afbreekpunte geboelie en is swak verdediging
by die afskop uitgebuit en moes die Blitsbokke opvangrugby speel.
Ongelukkig het dit ook weer in die uitspeelhalfeind om 5de plek teen NZ gebeur en is die Blitsbokke tot vervelens toe by die afbreekpunte gestraf.

harde werk wag om dit uit te skakel.

Valerie ·

Die grootkop siekte van elke SA span, rugby of krieket. Dit gaan net erger word.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.