Blitsbokke baie beter in Sydney

Angelo Davids is een van die Blitsbokke se gevaarmanne. Hy is ’n driekuns-spesialis! (Foto: Twitter)

Die Blitsbokke is hard op pad om te vergoed vir verlede week se teleurstellende 10de plek in die Hamilton-toernooi. Stedman Gans se span is tans onoorwonne ná twee wedstryde in Sydney en met die groepwedstryde wat deesdae só belangrik in die HSBC-sewesreeks is, laat hul vertoning mens baie meer gerus voel.

Die Suid-Afrikaners het vróégoggend (SA tyd) ’n rits drieë gedruk om Argentinië met 52–14 te verrinneweer, terwyl hulle pas Frankryk met 24–12 geklop het.

Angelo Davids was veral skitterend teen die Franse en sy vlugvoetige lopies is met ’n driekuns van drieë beloon.

Hy het die wedstryd se eerste drie gedruk toe hy soos ’n warm mes deur die Franse se bottervinger-verdediging gesny het.

Hoewel die Fransmanne bykans onmiddellik met ’n drie van hul eie geantwoord het, het Davids saam met JC Pretorius gesorg dat die Suid-Afrikaners ’n gemaklike voorsprong van 19–7 teen rustyd geniet het.

Frankryk het direk ná rustyd punte aangeteken toe Sacha Valleau vir sy tweede drie deurgehardloop het, maar Davids se derde drie was die finale spyker in die Fransmanne se doodskis.

Die Blitsbokke speel môreoggend om 02:51 teen Samoa in hul laaste groepwedstryd. Kyk maar gerus vóór kerk die hoogtepunte as jy kan; Gans-hulle bederf ons dalk weer.

Puntemakers teen Frankryk:

Suid-Afrika: Drieë: Angelo Davids (3) en JC Pretorius.

Frankryk: Drieë: Sacha Valleau.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.