Blitsbokke begin 2020 met Japan-wedstryd in NS

Foto: GB Jordaan.

Ná twee toernooie in die HSBC-sewesreeks lyk dit asof die Blitsbokke en die Nieu-Seelanders van die gunstelingspanne is om met medaljes vanaf die Olimpiese Spele in Tokio terug te keer.

Neil Powell se span het eerstens amok in Dubai gemaak, waarna hulle met net twee punte teen Nieu-Seeland in Kaapstad se bekereindstryd verloor het.

Al twee spanne het tans 41 ligapunte, terwyl hulle ook die meeste punte op die veld aangeteken het. Nieu-Seeland het 313 punte in die twee toernooie aangeteken, teenoor die Blitsbokke se 275 punte.

Suid-Afrika het 169 duikslae uitgevoer en die Kiwi’s 168; Engeland is in die derde plek met hul 144 duikslae.

Hoewel statistieke belangrik is, vertel dit net ’n gedeelte van die storie. En die Blitsbokke se kortverhaal oor die afgelope twee toernooie is gevul met hoofstukke van talent, uitstekende vaardighede en trots om die Suid-Afrikaanse trui te dra.

Hulle begin hul 2020-veldtog met die Hamiltonse toernooi in Nieu-Seeland waar Japan eerste op hulle wag.

Die Blitsbokke het die einste Japan met 49-0 in Kaapstad verrinneweer.

Kenia en Engeland is die ander span in hul groep.

Dit was ’n goeie jaar vir Suid-Afrikaanse rugby. Die Superrugby-spanne het weliswaar gesukkel, maar die Springbokke en die Blitsbokke het vir ’n paar breëbors-oomblikke gesorg.

  • Komende sewestoernooie in 2020:

25-26 Januarie: Hamilton

1-2 Februarie: Sydney

29 Februarie tot 1 Maart: Los Angeles

7-8 Maart: Vancouver

3-5 April: Hongkong

11-12 April: Singapoer

23-24 Mei: Londen

30-31 Mei: Parys

  • Die Olimpiese Spele begin op 24 Julie in Tokio. Die Blitsbokke het in 2016 die bronsmedalje in Rio de Janeiro gewen.
  • Bepalings vir die Hamilton-sewestoernooi:

25 Januarie teen Japan om 02:03

25 Januarie teen Engeland om 07:30

26 Januarie teen Kenia om 01:13

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.