Blitsbokke begin al hoe meer na pure goud lyk

Die Blitsbokke het Fidji in hul derde wedstryd met 17-7 geklop. (Foto: Twitter via @Blitzboks)

Neill Powell, die Blitsbokke se afrigter, is besig om goud te delf met sy nuwe geslag sewesspelers.

Dit het gevolg nadat die Blitsbokke Saterdag in Singapoer saam met Nieu-Seeland, die VSA en Australië onoorwonne gebly het in die groeprondes van dié toernooi.

Die Blitsbokke het Fidji in hul derde wedstryd met 17-7 geklop nadat hulle vroeër vir Skotland met 36-10 en Kanada met 36-0 ore aangesit het.

Altesame 89 punte vir en slegs 17 punte in drie wedstryde en dit is ʼn pluimpie vir hul fiksheid in die bedompige hitte.

Die Blitsbokke speel in Sondagoggend (05:28) se eerste kwarteindronde teen Samoa, Nieu-Seeland pak Fidji, die VSA meet kragte met Argentinië en Australië speel teen Engeland, wat hul sterre kan dank dat hulle deurgedring het, want hulle het twee keer verloor.

Ja, daar was verlede week in Hongkong ook hoë verwagtinge van die Blitsbokke gekoester, maar toe het hulle die pad byster geraak. Dalk is daar steeds ʼn gebrek aan selfvertroue, dat hulle nog nie Powell se spelpatroon en taktiek heeltemal onder die knie het nie.

Maar te oordeel na Saterdag se drie vertonings, lyk dit of Powell die balans begin regkry met Werner Kok, Ryan Oosthuizen, Impi Visser en Chris Dry as sy ystervoorspelers, terwyl die vlugvoetige agterspelers soos Kurt-Lee Arendse, Justin Geduld, Branco du Preez, Selvyn Davids, Shakes Soyizwapi en Stedman Gans met al hoe meer selfvertroue speel.

Maar net soos in die vyftienmanspel kan die agterspelers net gedy as hulle die bal op die voorvoet ontvang en die druk kan hanteer as dit op hulle geplaas word.

Dis waar Kok-hulle die grondslag lê, want hulle is nie bang om hul lywe op die spel te plaas nie, hulle wen hul lynstane, ding baie goed mee wanneer daar in- en afgeskop word, staan stewig in die skrums en verdedig rotsvas. Dit skep geleenthede vir die vinnige spelskeppers en agterspelers om rond te hardloop.

Wat in die Blitsbokke se guns tel, is dat al die agterspelers baie goed kan systap, aftrap en vinnig is.

Maar die Blitsbokke sal moet bewys dat hulle die pas kan volhou en nie weer uitsak wanneer dit werklik saak maak nie.

Dit lyk mos alte veel of Fidji net genoeg doen om te kwalifiseer en dan in die uitspeelrondes die voet op die versneller plaas.

Maar daar is hoop, sommer baie ook vir die toekoms, al gaan dit soms met rukke en stote.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

George in Bloem ·

Wat help dit hulle is gereeld onoorwonne in die groepwedstryde net om hulle alie te sien in die uitklopwedstryde? Rerig niks om oor opgewonde te raak nie. Begin die finaal te haal of reekse te wen DAN is daar rede tot opgewondenheid.

George in Bloem. ·

Presies wat ek daar se. Ek is bly as hulle wen. Ek raak suur as hulle goeie uitklop rondtes speel en rerig goeie rugby speel net om dan wedstryde te gaan staan en verloor wat hulle eintlik moes wen in die uitklop fases. Kyk wat het weer die jaar in Hong Kong gebeur? Ek staan by my kommentaar. If you want to be the best you have to beat the best,anytime,anywhere……..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.