Blitsbokke: Bestendigheid die strewe, sê Powell voor Dubai-toernooi

Goed begonne is half gewonne, lui die spreekwoord. Maar dit is nie al waarna die Blitsbokke van Vrydag af in Dubai in die eerste Wêreldrugby-sewestoernooi van die 2018/’19-seisoen mik nie.

“Ons streef bestendigheid na,” het die Blitsbokke se afrigter Neil Powell Donderdag gesê.

Dit was die formule vir hulle reeksoorwinning verlede seisoen.

Suid-Afrika het die laaste twee seisoene die reekse gewen, ondanks net twee toernooi-oorwinnings teenoor Fidji se vyf titels verlede seisoen, maar het hulle nogtans verlede jaar in die reeks geklop.

Powel is nietemin skrikkerig vir die eerste toernooi in Dubai. “Die eerste toernooi is altyd moeilik. Jy weet nie wat die ander spanne met hulle voorbereiding gedoen het nie en hoe gereed hulle vir die toernooi is nie.

“Ons fokus dus net op ons eie spel en hoe om die beste te haal uit wat ons voorberei het,” het Powell Donderdag gesê.

Die Blitsbokke sal Vrydag vir die sewende keer as verdedigende kampioen in Dubai deelneem. “Ons het ʼn goeie rekord hier en ons hoop ons sal weer goed in die reeks kan wegspring.”

Powell sê hulle weet egter dit sal nie maklik wees nie.

♦ Die Blitsbokke se eerste wedstryd is teen Zimbabwe (08:52) gevolg deur wedstryde teen twee spanne wat op hulle dag gedugte teenstanders kan wees, Samoa (12:36) en Argentinië (17:53).

As die Blitsbokke, soos verwag en voorspel word, een van die eerste twee plekke in groep A inneem, sal hulle Saterdag in die kwarteindronde teen een van groep D se voorste spanne, waarskynlik Engeland of Australië met Kanada ʼn sterk buiteperd, te staan kom.

♦ In groep B is Fidji die ongetwyfelde gunsteling met Kenia, Skotland of Frankryk wat, afhangende van hul voorseisoene voorbereiding, tweede kan eindig.

Die topspan in groep B sal teen die nommer twee-span van groep C speel, waar Nieu-Seeland die gunsteling is om eerste te eindig met die VSA wat moontlik bo Wallis in die tweede plek na die kwarteindronde sal deurdring.

Die Blitsbokke se span ‒
1.    Impi Visser (eerste toernooi)
2.   Philip Snyman, kaptein (54 toernooie; 248 wedstryde, 346 punte, 63 drieë, 16 doelskoppe)
3.   Ryan Oosthuizen (10 toernooie; 45 wedstryde, 55 punte, 11 drieë)
4.   Zain Davids (13 toernooie; 60 wedstryde, 45 punte, 9 drieë)
5.   Werner Kok (37 toernooie; 184 wedstryde, 420 punte, 84 drieë)
6.   Kyle Brown (65 toernooie; 327 wedstryde, 420 punte, 84 drieë)
7.   Branco du Preez (61 toernooie; 305 wedstryde, 1162 punte, 82 drieë)
8.   Rosko Specman (26 toernooie; 138 wedstryde, 343 punte, 63 drieë, 14 doelskoppe)
9.   Justin Geduld (36 toernooie; 186 wedstryde, 833 punte, 86 drieë)
10. Dewald Human (4 toernooie; 18 wedstryde, 66 punte, 8 drieë, 13 doelskoppe)
11.  Siviwe Soyizwapi (18 toernooie; 89 wedstryde, 280 punte, 56 drieë)
12. Muller du Plessis (4 toernooie; 20 wedstryde, 55 punte, 11 drieë)
13. Selvyn Davids* (5 toernooie; 24 wedstryde, 97 punte, 13 drieë, 16 doelskoppe)

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.