Blitsbokke bly op wenpad by Dubai-sewes

Die Blitsbokke het hul 22ste opeenvolgende oorwinning in die reeks behaal toe hulle die fisieke Keniane in die vierde kwarteindstryd geklop het. (Foto: Springbok Sevens/Twitter)

Die Blitsbokke begeef hulle op ietwat onbekende terrein wanneer hulle Frankryk Saterdagmiddag (12:46) in die halfeindronde van die Dubai-sewestoernooi pak.

Die Blitsbokke het hul 22ste opeenvolgende oorwinning in die reeks behaal toe hulle die fisieke Keniane in die vierde kwarteindstryd met 31-19 geklop het nadat hulle rustyd met 17-7 voor was.

Weer was dit die Blitsbokke se taktiek om nie onnodig kontak te maak nie, om nie meer as een of twee spelers by die afbreekpunte te hê nie en om die bal so vinnig moontlik te rek, wat in hul guns getel het.

Die Franse het tot dusver ʼn groot indruk by die toernooi gemaak, veral nadat hulle die VSA, wat in verlede Saterdag se eindstryd teen die Blitsbokke verloor het, met 28-12 getroef het.

Die Franse het ʼn paar vlugvoetige spelers met vaart en hulle het die nodige vaardighede van sewesrugby onder die knie.

Maar ʼn mens sal nog moet sien hoe hulle die druk wat die talentvolle Blitsbokke op hulle sal plaas, verwerk.

In die ander halfeindstryd kom Australië, wat Ierland met 24-12 geklop het, teen Argentinië te staan. Die Argentyne het Brittanje met 33-12 uitgeskakel.

Met Fidji heeltemal buite rekening nadat hulle nie die uitkloprondes kon haal nie, kan die Poemas en Hane die Blitsbokke se sterkste teenstand wees.

Met die vlugvoetige Ronald Brown, Branco du Preez, Siviwe Soyizwapi en die hardwerkende JC Pretorius en Impi Visser in hul geledere, lyk die Blitsbokke egter weer byna onstuitbaar.

Punte: Suid-Afrika 31 (17): Drieë: Zain Davids, Siviwe Soyizwapi, Ronald Brown, Christie Grobbelaar, Shaun Williams. Doelskoppe: Branco du Preez, Brown (2).

Kenia 19 (7): Drieë: Alvin Marube, Timothy Mmasi, Jeff Oluoch. Doelskoppe: Anthony Omondi, Johnstone Olindi.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.