Blitsbokke: Bofbalveld sal aanpassings van sewesspanne verg

Natuurlik sal dit vir al die spanne ʼn aanpassing wees, maar die AT&T-veld waarop die vierjaarlikse Sewes-Wêreldbekertoernooi die naweek beslis word, sal tog verskillende (individuele) aanpassings deur elk van die 24 spanne in die toernooi noodsaak.

Dit, en die aard van die reeks waar ʼn enkele neerlaag die einde van ʼn span se Wêreldbekerdroom sal beteken, is twee van die vreemdhede wat van Vrydag af in San Francisco ervaar sal word.

Hierdie keer speel die sewesspanne nie soos gewoonlik met ʼn besoek aan die VSA op ʼn erkende Amerikaanse voetbalveld nie, maar op die bofbalveld van die AT&T-stadion van die San Francisco Giants. Daar is geen duidelikheid oor hoe die rugbyveld op die groter bofbalveld uitgemerk sal word nie, maar die lengte en die breedte van die veld sal heelwat korter as die gewone eersterangse rugbyveld wees.

Die Amerikaanse voetbalveld wat van tyd tot tyd vir professionele- en ook kollege-voetbal by die AT&T uitgelê word, het aan dié sport se vereistes van 360 voet (109,75 meter) insluitende die eindsones (agter die doellyn) voldoen. Met die doelgebiede wat ook ingepas moet word, sal die veld dus korter wees as waaraan die sewesspanne gewoond is.

Boonop is die breedte van die Amerikaanse voetbalveld, amper 49 meter, ook aansienlik minder as die gewone eersterangse rugbyveld. Dit lyk egter of die veld by AT&T moontlik effens wyer gemaak kan word, maar dit sal gewis nie naby aan die standaard rugbyveld se breedte van 70 meter kom nie.

Die korter veld sal dus – veral van die spanne wat graag van taktiese skoppe gebruik maak, soos die Blitsbokke soms met hul snellers doen wat dan die bal jaag – aanpassings op aanval en verdediging verg.

Spanne wat graag wyd speel, word ook deur die veldwydte beperk. Spoedvrate soos Seabelo Senatla van die Blitsbokke, Amerika se twee naellopervleuels, Perry Baker en Carlin Isles, en Dan Norton van Engeland, se vaart sal in ʼn mate geneutraliseer word oor die minder ruimte om óm hul teenstanders te hardloop.

Die stadion huisves 42 000 toeskouers. Hoewel dit nou somer in San Francisco is, is daar by die veld, wat letterlik teenaan die see by San Francisco-baai lê, soms mis wat toestande vir toeskouers en spelers onplesierig koud maak en in uitsonderlike gevalle ook sig bemoeilik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.