Blitsbokke deur na kwarteind, maar …

Die Blitsbokke het vroeg Saterdagoggend hulle eerste twee groepwedstryde in Wêreldrugby se sewestoernooi in Las Vegas gewen en is reeds verseker van ʼn plek in die kwarteindronde.

Suid-Afrika moet in sy die laaste groepwedstryd tien minute na middernag Sondagoggend teen die indrukwekkende Engeland speel, wat net soos die Blitsbokke met Kanada en Wallis afgereken het.

Maar Engeland het dit veel makliker as die Blitsbokke reggekry, wat sonder ses staatmakers en nou ook die beseerde Kyle Brown en Werner Kok moet speel.

Op die aanval het Suid-Afrika goed gehanteer, maar die vaart en slaankrag wat manne soos Justin Geduld, Rosko Specman en Seabelo Senatla bring, was duidelik afwesig.

Die grootste sonde van die Blitsbokke was moontlik hulle verdediging. Weer was dit die gebrek aan ware vaart – en ook ervaring – wat eers Kanada en toe Wallis toegelaat het om die Blitsbokke tot die einde op te dreun.

Hulle het twee drieë in hul oorwinning van 19-12 teen Kanada afgestaan en drie teen Wallis wat eers reg teen die einde deur Shakes Soyizwapi se drie hokgeslaan is (26-21).

In vroeëre toernooie is daar selde meer as een of twee drieë in die volle drie groepwedstryde teen die Blitse gedruk – en Engeland lê nou nog voor.

Wat betref die laaste groepwedstryd teen Engeland net ná middernag, is die Engelse in hierdie toernooi klaarblyklik op hulle kop. Wallis is oortuigend deur Engeland met 33-12 verniel en die Engelse het ook met ʼn indrukwekkende sege van 40-12 teen Kanada van die veld gestap

♦   Suid-Afrika sal in die kwarteindronde teen die VSA of Australië te staan kom, hoewel Samoa met ʼn oorwinning oor die Aussies ook een van die top-twee in groep C kan wees.

♦  Australië het glad nie goed gelyk in sy wedstryd teen die VSA wat met 28-7 gewen het nie en kan (net dalk) nog teen Samoa verloor en sodoende uit die kwarteind gehou word. Dit is egter onwaarskynlik.

♦  Die All Blacks het in groep A teen Argentinië vasgeval. Hulle sal Sondagoggend die moeilike Skotland, wat met net twee punte, 19-21, teen die Pumas verloor het, moet klop om na die kwarteind deur te dring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.