Blitsbokke dink nie aan reekssege, wil eers Singapoertitel wen

Suid-Afrika, as alles volgens plan in  die groepwedstryde verloop, behoort Sondag teen òf Australië òf Argentinië in Wêreldrugby se Singapoer-sewestoernooi te staan te kom.

Die toernooi, wat Saterdag begin, put die Blitsbokke teen Engeland, Frankryk en Japan, wat ʼn lastige teenstander kans wees. Die wisselvallige Franse op hul beste is ʼn gevaar en het verlede week net met 10-17 teen die Blitsbokke verloor; en Engeland, met ʼn fikse span, is een van die toernooi se heel bestes wat die Blitse drie van hulle vier neerlae in die huidige reeks toegedien het.

Die Engelse is egter uitgedun weens beserings en gebruik van hulle akademiespelers. Of hulle dieselfde diepte as Suid-Afrika uit hulle akademie kan verkry is te betwyfel.

Sou die Blitsbokke na die halfeind vorder en daar verloor sal hulle natuurlik vir Fidji laat naderkruip as die Fidjiane die eindstryd sou haal.

Daar is egter steeds verskeie permutasies waarvolgens die Blitsbokke die reeks kan wen. Neil Powell se ingesteldheid is egter só dat hy hom nie aan dié dinge steur nie. Die Blitsbokke se doelwit is om reg te maak wat hulle in Hongkong in veral die eindstryd verbrou het.

Die verlies van vier ervare spelers wat beseer is, Kyle Brown, Stephan Dippenaar Rosko Specman en Justin Geduld word terdeë gevoel maar word nie as verskoning voorgehou nie. Powell glo in sy jong plaasvervangers.

Suid-Afrika spring Saterdag teen Japan weg.

Hulle groepwedstryde Saterdag –

06:06 – SA vs Japan
09:06 – SA vs Frankryk
13:02 – SA vs Engeland

Die Beker-kwarteindrondes begin Sondag 06:30.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.