Blitsbokke: Druk op onervare jonges om SA voor te hou

Die naweek betree Suid-Afrikaanse rugby ʼn nuwe tydvak. Die Blitsbokke én die Springbokke sal binne twee maande elk binne twee naweke met twee verskillende kapteins en spanne op die veld draf.

Vir die Blitsbokke is daar die Hongkong-toernooi wat Vrydag begin. Die vlugvoetige Dewald Human, wat net-net meer as 70kg weeg, is die kaptein. Aanstaande naweek, aan die Australiese Goudkus, speel die Blitsbokke nie as Springbokke nie, maar is hulle Span Suid-Afrika as deel van die groter groep SA deelnemers by die Statebondspele.

Die Bokke speel op 2 Junie in Washington teen Wallis en – baie waarskynlik met ʼn grootliks ander span en kaptein – die week daarop teen Engeland op Ellispark.

♦  Wat die naweek se sewestoernooie in Hongkong betref: Daar word Vrydag, op die eerste dag van die toernooi, net ʼn enkele wedstryd deur elke span gespeel met twee wat Saterdag volg en dan die uitspeelwedstryde wat Sondag aan die beurt kom.

In die Blitse se laaste groepwedstryd Sondag speel hulle die derde keer in die afgelope vier toernooie teen Engeland.

♦  Suid-Afrika se stelsels en diepte wat op Stellenbosch by die sewesakademie ingedril en ontwikkel word, sal onder groot druk wees om die Blitsbokke in wêreldrugby se sewesreeks te behou. Dit is die derde laaste van die tien toernooie en Fidji het met sy tweede oorwinning in die reeks in Vancouver tot binne twee punte van Suid-Afrika nadergekruip.

Daar is vyf spelers in die Blitsbokke se groep wat nog nie in die Wêreldreeks gespeel het nie: Heino Bezuidenhout, Mosolwa Mafuma, James Murphy, Rhyno Smith en Mfundo Ndhlovu. Nóg drie spelers het in drie of minder toernooie gespeel.

Die twee “ervare manne” is Zain Davids (agt toernooie, 36 wedstryde) en Stedman Gans (8 toernooie, 30 wedstryde).

Blitsbokke se bepalings (SA tye):
Vrydag

13:10 – teen Suid-Korea
Saterdag
06:22 – teen Skotland
10:26 – teen Engeland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Stephen Namibia ·

Kry vir Kwagga Een van die beste rugbyspelers in die wereld soos Rassie sal uitvind.

erwin ·

Geluk aan ons junior blitsies. Julle doen goed in hong kong.doe zoo voort

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.