Blitsbokke druk vyf drieë teen Kenia

Die Blitsbokke het hul eerste wedstryd van die Sydney-sewestoernooi met 31 – 5 teen Kenia gewen. Foto: Twitter.

Die Blitsbokke was goed, maar hulle is nog nie heeltemal op hul beste nie.

Só meen Shakes Soyizwapi nadat Suid-Afrika vir Kenia met 31–5 in hul eerste wedstryd van die Sydney-sewestoernooi geklop het.

“Ons het met daardie vertoning weer ʼn bietjie trots in die trui teruggesit, maar mag nooit tevrede met onnodige foute  wees nie. Ons sal vandag se wedstryd goed ontleed voor ons volgende kragmeting teen Uruguay,” het die nasionale seweskaptein gesê.

Volgens Soyizwapi het sy span hopeloos te veel strafskoppe afgestaan – iets wat indringend uitgestryk moet word as hulle in die bekeruitspeelwedstryde wil speel.

Die Blitsbokke was egter dorings op die aanval met Shilton van Wyk wat twee drieë gedruk het, terwyl Soyizwapi sy 140ste drie op die internasionale verhoog gedruk het.

Ricardo Duartee was in die kol met drie doelskoppe.

  • Puntemakers:

Blitsbokke: Drieë: Shilton van Wyk (2), Shaun Williams, James Murphy en Shakes Soyizwapi. Doelskoppe: Ricardo Duarttee (3).

Kenia: Drie: Kevin Wekesa.

  • Bepalings:

Blitsbokke teen Uruguay (Saterdag om 00:44)

Blitsbokke teen Nieu-Seeland (Saterdag om 06:49).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.