Blitsbokke: Durf en gehalte verseker plek in kwarteind

Suid-Afrika se jong sewespan het Engeland in sy laaste groepwedstryd met 33-15 geklop en daarmee na Sondag se kwarteindronde in Wêreldrugby se sewesreeks in Hongkong deurgedring.

Die Blitsbokke, wat onoorwonne in hulle groep was, sal Sondagoggend (05:20) teen Spanje in die kwarteind speel.

Spanje was tweede in sy groep ná Kenia, en moet nie ligtelik benader word nie. Hulle is ʼn goed afgerigte span, en het in die groepfase met Australië en Kanada, wat weliswaar sonder hulle Statebondspelers was, afgereken.

♦  Nadat Suid-Afrika vroeër Saterdag hul groepwedstryd teen Skotland met 31-17  gewen en die Skotte toe met 61-7 met Suid-Korea afgereken het, moes Engeland met sewe punte teen die Blitse wen om die kwarteind te haal. Sou hulle met 17 punte wen, sou Suid-Afrika uit die kwarteind gehou word op grond van Skotland se sege Vrydag oor Engeland.

En dit wás nie maklik teen Engeland nie. Die Wittruie het in die eerste paar minute feitlik na willekeur bresse geslaan en met die telling op 15-14 het sake donker vir die jong Suid-Afrikaanse span gelyk.

Toe het die samespel en die goeie hardlooplyn van die Blitse saam met hul vaart die deurslag gegee.

Die veel ligter Blitsbokke se grootste uitdaging was hul verdediging. Dit het telkens twee, soms selfs drie man gekos om ʼn teenstander grond toe te bring wat uiteraard dan spelers aan hulle buitekant gelaat het om na te speel.

Maar soos lastige vlieë het die Blitsbokke met hulle swermverdediging die gety gekeer, en met die bal in die hand was hulle eenvoudig kookwater.

♦  Skotland het in daardie vroeër wedstryd die van-buite-na-binne verdediging toegepas om die vlugvoetige maar ligter Blitsbokke se vaart en verspreiding te probeer neutraliseer.

Die kort aangeë naby die afbreekpunte van die Suid-Afrikaners het dit egter oorkom. Met die goeie lyne wat gehardloop is en die ondersteuning wat uitstekend was, het die Blitse ná rustyd drie keer gaan druk om by hulle eerste helfte se twee drieë te voeg met Skotland wat reg teen die einde hul enigste na rustyd gedruk het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Veritas ·

Die blitsbokke weet dat diepte belangrik is en beplan daarvoor. Iets wat die 15 man afrigtingspan skynbaar nog nie besef het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.