Blitsbokke gee Engeland bloedneus

Die Blitsbokke het vroeg Sondagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) Engeland in hul derde en laaste groepwedstryd met 29-12 geklop. (Foto: Twitter via @Blitzboks)

Die Blitsbokke het vroeg Sondagoggend (Suid-Afrikaanse tyd) in Las Vegas dubbel en dwars vir hul teleurstellende vertoning teen Chili in hul tweede wedstryd in Wêreldrugby se sewestoernooi vergoed toe hulle Engeland in hul derde en laaste groepwedstryd met 29-12 geklop het.

Die Blitsbokke was rustyd reeds met 10-5 voor en kom nou in die kwarteindstryd teen die gasheer, Amerika, te staan.

Engeland speel teen Argentinië, Australië pak Samoa en Nieu-Seeland speel teen Fidji.

Dit kan ʼn eindstryd in die kleine en in die Blitse se guns wees, want een van hul grootste teenstanders sal dus uitgeskakel word.

Waar die Blitsbokke teen Chili (die telling was 5-elk) sonder veggees gespeel het en nie kon afrond nie, het hulle die Engelse oordonder en vyf drieë gedruk teenoor Engeland se twee.

Die Blitsbokke het ook net vier duikslae teenoor die 12 van Engeland verbrou en die bal 45 keer suksesvol aangegee teenoor Engeland se 21.

Dit was ʼn vertoning waarop die Blitsbokke trots kan wees, want hulle was fisiek, het baie goed verdedig en hul hanteerwerk was ook puik.

Al wat effens gehinder het, was hul skopwerk pale toe, maar wie kla nou met die witbrood onder die arm as jy Engeland met 17 punte klop?

As die Blitsbokke hierop kan voortbou, kan hulle verder vorder, maar as hulle speel soos teen Chili, kan hulle van ʼn sege oor die Yanks vergeet.

Punte: 

Blitsbokke 29 (12): Drieë: Philip Snyman, Shakes Soyizwapi, Justin Geduld, JC Pretorius, Selvyn Davids. Doelskop: Branco du Preez, Davids.

Engeland 12 (5): Drieë: Tom Bowen, Charlton Kerr. Doelskop: William Edwards.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.