Blitsbokke: Goeie wegspring in die Wêreldbekertoernooi

Dít het Ierland darem nie in die eerste wedstrydronde van die Sewes-Wêreldbekertoernooi verwag nie.

Suid-Afrika se eerste wedstryd, nadat Ierland in die uitdunronde teen Chili gesukkel het, was goed. Die Blitsbokke het Saterdag in San Francisco weggespring met ʼn vertoning wat hul vernaamste teenstanders met effense benoudheid sou gelaat het.

Hul wentelling van 45-7 het sewe drieë ingesluit waarvan Shakes Soyizwapi vier gedruk het. Werner Kok, met ʼn kraglopie van 60 m wat ʼn Ier ná ʼn afstamp langs die pad agtergelaat en waar hy ander verdedigers net geïgnoreer het, het ook gedruk en Justin Geduld twee keer.

Vier doelskoppe deur Selvyn Davids en een deur Dewald Human het die telling na 45 punte met doelskoppe aangevul met Ierland wat eers ná die toeter ʼn langafstanddrie gaan druk het ‒ ná wat moontlik die Blitse se enigste stukkie slordige spel was toe hulle teen die einde skielik met skoppies probeer aanval het.

In die uitdunrondes, wat hoofsaaklik in die guns van die gevestigde lande verloop het wat in die afgelope sewesreeks van Wêreldrugby gespeel het, was daar net een verrassing ‒ dié van Frankryk wat in die eerste wedstrydronde naelskraap (22-17) met Australië afgereken het.

Engeland het ook teen Samoa deurgeskraap, 22-17.

♦  Skotland, wat in die kwarteind teen die Blitsbokke speel (00:32 Sondagoggend) het eers in die tweede helfte wakker geskrik om ʼn agterstand  van 0-26 teen Kenia met vyf drieë en drie doelskoppe uit te wis en met 31-26 te wen.

Kenia was wel ná rustyd aan die vrot kant, maar die Skotte, in onlangse jare die Blitse se Nemesis in belangrike wedstryde, durf nie onderskat word nie.

♦  Die ander uitslae in die eerste ronde waarvan die agt wenners, meestal taamlik maklik,  na die kwarteind deur is, is:

Skotland 31 Kenia 26, Argentinië 28 Kanada 0, Australië 17 Frankryk 22, Engeland 19 Samoa 15, Nieu-Seeland 29 Rusland 5, Fidji 35 Japan 10, VSA 35 Wallis 0.

♦  Die kwarteindronde vir spanne wat nog in die bekerwedloop is, word vanaf 00:32 Sondagoggend tussen die volgende spanne besleg ‒

Suid-Afrika teen Skotland, Argentinië teen Fidji, Frankryk teen Nieu-Seeland, VSA teen Engeland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.