Blitsbokke gunsteling vir Sydney-titel

Die Blitsbokke sê hulle voete is stewig op die grond en hulle begin van voor af wanneer hulle Saterdag in Sydney in die vierde toernooi van die Wêreldrugby-sewesreeks speel.

Hierdie belofte is nodig, want nadat hulle die afgelope naweek in Wellington alle teenstand voor hulle weggevee het, kan daar seker min twyfel wees dat Suid-Afrika weer behoort te seëvier, sou mens sê.

Maar hokaai.

Voor die Nieu-Seelandse been het die Suid-Afrikaners vir Kyle Brown en Cecil Afrika aan beserings afgestaan. Zain Davids en Shakes Soyizwapi het wel moeiteloos in hulle plekke by die span ingeskakel.

Die Sydney-toernooi is die laaste waaraan Wêreldrugby se sewesspeler van 2016, Seabelo Senatla en die hardwerkende Kwagga Smith, sal deelneem voordat hulle na die vyftienmankode vir die Superrugby-reeks terugkeer.

En hier is die eerste tameletjie. Kies die Blitsbokke se afrigter Neil Powell deurgaans sy sterkste beskikbare span, of begin hy solank ander spelers, insluitende die nuwelinge, meer blootstelling te gee? Dis nou die spelers wat in die toekoms Senatla en Smith (en Brown en Afrika wat lank buite aksie is) se skoene sal moet volstaan.

Dit, en die feit dat die Blitsbokke na hulle onlangse suksesse in al die spanne se visier gaan wees, gaan druk op Powell se troepe plaas.

Nieu-Seeland lyk of hulle nog aanpas by hulle nuwe afrigter, Clark Laidlaw, terwyl Fidji allermins na die gevaarspan van ’n jaar of drie gelede lyk. Of is dit maar net ʼn geval dat die Blitse nou die regte en effektiewe wedstrydplan teen hulle het?

En die jong Aussies sukkel ook met die klompie nuwelinge.

Engeland, wat die Kaapstadse been aan die einde van verlede jaar gewen het, en Skotland is moontlik die ander vernaamste uitdagers vir die Australiese kroon.

Die Blitsbokke bevind hulle saam met Japan, Kenia en Engeland in groep A. Die Engelse sal waarskynlik die Suid-Afrikaners se grootste uitdaging in die groepwedstryde wees.

Maar Kenia durf nooit onderskat word nie. Op hulle dag kan die Oos-Afrikane enige span opdraand gee en selfs klop.

Suid-Afrika (63) is ná die eerste drie toernooie 12 punte voor hul naaste teenstander, Fidji (51), op die puntelys. Hulle kan in hierdie toernooi die voorsprong konsolideer en selfs rek – maar dan moet hulle eenvoudig wen.

Blitsbokke se bepalings Saterdag –

Japan – 02:20
Kenia –  06:15
Engeland – 11:13

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.