Blitsbokke: Hongkong se uitblinkers kry kans in Singapoer

Sewe van die jongelinge wat twee weke gelede in Hongkong verbaas het toe hulle sonder die land se uitsoekspelers by die Statebondspele derde in Wêreldrugby se sewestoernooi geëindig het, is ingesluit in die Blitsbokke se span vir aanstaande naweek se toernooi in Singapoer.

Daar is, benewens die toernooi in Singapoer, nog twee toernooie waar Suid-Afrika hul skrale voorsprong van drie punte bo Fidji op die reekspunteleer moet verdedig om hul titel as die reekswenner te behou.

ʼn Oorwinning in Singapoer is dus baie naby aan ononderhandelbaar

Heino Bezuidenhout, Ryan Oosthuizen, Zain Davids, Selvyn Davids, Stedman Gans, Muller du Plessis en die reisende reserwe James Murphy kry kans om ná die toernooi in Hongkong verder indruk te maak in ʼn jaar waar die Blitsbokke onder meer as doel gehad het om jong spelers vir die toekoms te identifiseer.

Die Blitsbokke, wat sonder hul kaptein, Philip Snyman, en van die ander senior spelers in Singapoer sal speel, word daar aangevoer deur Kyle Brown, wat die span jare lank gelei het. Hy speel in sy 65ste toernooi – net drie duskant die rekord van Frankie Horne se 68 toernooie.

Dylan Sage, Werner Kok, Rosko Specman, Cecil Afrika, Siviwe Soyizwapi en Zain Davids is die spelers van die Statebondspele wat ook in Singapoer sal speel. (Zain) Davids is die enigste van hulle wat ook in Hongkong gespeel het.

Suid-Afrika speel aanstaande Saterdag in die Singapoer-toernooi in afdeling C teen Samoa, Kanada en Argentinië – al drie op hul dag moeilike spanne. Die eerste twee spanne in hul afdeling sal die Sondag na die kwarteindstryd deurdring. 

Die span (toernooie, wedstryde, punte, drieë) –

  1. Heino Bezuidenhout, (1 toernooi, 6 wedstryde, 5 punte, 1 drie)
  2. Ryan Oosthuizen, (7 toernooie, 27 wedstryde, 30 punte, 6 drieë)
  3. Kyle Brown (kapt.), (64 toernooie, 324 wedstryde, 420 punte, 84 drieë)
  4. Zain Davids, (10 toernooie, 42 wedstryde, 35 punte, 7 drieë)
  5. Dylan Sage, (21 toernooie, 116 wedstryde, 140 punte, 28 drieë)
  6. Rosko Specman, (25 toernooie, 137 wedstryde, 338 punte, 62 drieë, 14 doelskoppe)
  7. Selvyn Davids, (4 toernooie, 19 wedstryde, 76 punte, 10 drieë, 12 doelskoppe)
  8. Cecil Afrika, (59 toernooie, 309 wedstryde, 1395 punte, 170 drieë)
  9. Werner Kok, (34 toernooie, 166 wedstryde, 370 punte, 74 drieë)
  10. Stedman Gans, (9 toernooie, 36 wedstryde, 45 punte, 9 drieë)
  11. Muller du Plessis, (3 toernooie, 14 wedstryde, 40 punte, 8 drieë)
  12. Siviwe Soyizwapi, (15 toernooie, 71 wedstryde, 235 punte, 47 drieë)
  13. James Murphy, (1 toernooi, 6 wedstryde, 0 punte)

*Reisende reserwe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.