Blitsbokke in eerste Wêreldbeker-halfeindstryd in 21 jaar

As jy die basiese goed reg doen, verval baie van die onsekerhede wat sewesrugby so ʼn onvoorspelbare sport maak.

Dít het die Blitsbokke halfeen Sondagoggend deeglik gedoen toe hulle vir Skotland, hul oorwinnaars in die laaste toernooi van Wêreldrugby se sewesreeks ses weke gelede,  ʼn drag slae in die kwarteind van die Wêreldbekertoernooi in San Francisco gegee het.

Suid-Afrika het Skotland met 36-5 geklop en die eerste keer sedert 1997 na die halfeindronde van die Sewes-Wêreldbekertoernooi deurgedring.

Die Blitsbokke het hulle sewe drieë teen Ierland met ses teen Skotland opgevolg wat deur Werner Kok en Justin Geduld (twee elk), Shakes Soyizwapi en Ruhan Nel gedruk is.

Die sege is op die krag van die baldraers, die vlugvoetigheid van veral Selvyn Davids en ongenaakbare en aggressiewe verdediging en ook goeie besluitneming gebou.

Kok het die toon van aggressie op die aanval gestel met die eerste drie. Eintlik was dit ʼn voortsetting van sy spel in die eerste wedstryd. Hy het ná  ʼn strafskop naby die Skotse doellyn eenvoudig net met brute krag deur die teenstand gebars.

In seker hul mees kliniese vertoning die afgelope twee jaar of so het die Blitsbokke egter, soos in die eerste ronde teen Ierland, hulle vertoning met ʼn drie aan die teenstand gaan staan en bederf ná speeltyd verstreke was.

Die skopwerk, met net drie van die ses drieë wat verdoel is, was ook nie waffers nie en kan vorentoe ʼn rol in hulle uitslae speel.

Die Skotte het weinig balbesit gekry, want die Blitsbokke het hulle by die afbreekpunte eenvoudig  net oordonder. Hulle was met spelfases letterlik net twee keer in Suid-Afrika se halfgebied en het geen antwoord gehad vir die opskiet- en skuifverdediging van Philip Snyman-hulle nie.

♦  Nou wag Engeland in die halfeindwedstryd nadat hulle in ekstra tyd die tuisspan, die VSA, uitgeskakel het. Die Engelse is ʼn goeie span, goed afgerig en met baie vaart op die vleuel waar Dan Norton ʼn puik afronder van geleenthede is. Dié halfeindwedstryd word Sondagaand 21:40 gespeel.

♦ In die ander halfeind sal Fidji en Nieu-Seeland mekaar (22:02 Sondagaand) aandurf nadat hulle onderskeidelik vir Argentinië (43-7) en Frankryk (12-7) geklop het.

Die finaal word 02:53 Maandagoggend gespeel met die uitspeel vir die bronsmedalje  wat 02;24 begin.

Uitslae van die kwarteindronde se wedstryde ‒

Suid-Afrika 36-5, Nieu-Seeland 12 Frankryk 7, Fidji 43 Argentinië 7, Engeland 24 VSA 19.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.