Blitsbokke in kwarteind ná taai Franse teenstand

Dit was Saterdag hittete in Suid-Afrika se tweede groepwedstryd in die Singapoer-sewestoernooi toe hulle met 10-7 teen Frankryk deurgeskuur en daarmee ook na die kwarteindronde gevorder het.

Die hanteerwerk was nie so sekuur as teen Japan nie en die groter druk van die Franse het tot ʼn hele paar ongewone foute van die Blitsbokke gelei. In die geheel goed, ja, maar nie oortuigend met die oog op wat teen die sterker spanne voorlê nie.

Die Blitsbokke het met rustyd met 5-0, en ʼn minuut ná die hervatting met 10-0, voorgeloop met Shakes Soyizwapi wat twee keer ná goeie spel in die hoek gedruk het.

In die tweede helfte het die Franse egter meer van die bal te sien gekry en toe Soyizwapi met ʼn verspotte hoogvat-geelkaart net meer as twee minute voor die eindtoeter afgejaag is, het die Franse van die strafskop af maklik teen die ses Blitsbokke gaan druk en verdoel.

Gelukkig was Soyizwapi vir die heel laaste skrum, op Frankryk se ingooi, terug op die veld en met sewe teen sewe spelers het die Bokke uitgehou.

♦ Hulle laaste groepwedstryd teen Engeland is veral vir laasgenoemde belangrik.

Engeland het Japan in hulle tweede groepwedstryd met 40-10 geklop nadat hulle met die intrapslag met 14-24 teen Frankryk vasgeval het.

Verloor Engeland teen die Springbokke, en natuurlik afhangende van die verloormarge, mag hulle dalk nie vir kwarteind kwalifiseer nie. Dit sal afhang van Frankryk se uitslag en ook hulle wenmarge teen Japan in die wedstryd voor die Engelse teen die Blitsbokke speel.

Maar haal Engeland nie die kwarteind nie, is hulle reeds skraal kans om die reeks te wen, daarmee heen.

Vroeë tellings in die groepwedstryde –

Suid-Afrika 52 Japan 0, Engeland 14 Frankryk 24, Australië 19 Samoa 12, Argentinië 7 Kenia 22, Fidji 40 Hongkong 0, VSA 35 Wallis 19, Argentinië 17 Samoa 7, Australië 29 Kenia 7, Engeland 40 Japan 10, Suid-Afrika 10 Frankryk 7, Fidji 38 Rusland 7.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.