Blitsbokke in taai Vancouver-groep

Die Blitsbokke sal hoop om beter in Vancouver te speel. Foto: Twitter.

Die Blitsbokke sal nie té lank kan tob oor die fiasko in Los Angeles nie; die volgende toernooi in Vancouver begin reeds Vrydag.

Die Suid-Afrikaners het ʼn rampspoedige veldtog in die VSA gehad en teen Uruguay, Ierland, Fidji en Samoa verloor.

Dit gaan ook nie veel makliker in Kanada word nie – die Blitsbokke sal sake met Argentinië (tans die naasbeste span op die HSBC-punteleer), Frankryk en Japan in die groepfase moet uitspook.

Boonop het hulle ook ʼn paar spelers aan beserings afgestaan.

Jaidon Barron en Masande Mtshali het harsingskudding opgedoen en hulle sal deur Noegh Hayward en Gurshwin Wehr vervang word. Dan het Travis Ismaiel ʼn dyspierbesering opgedoen en hy sal ook die Vancouver-aksie misloop.

Sandile Ncgobo (hoofafrigter) het vandeesweek na die spelers gekap en onder meer gesê dat dit “hartverskeurend” was om hul lustelose spel van langs die kantlyn dop te hou.

“Dit het gelyk asof die span dinge as vanselfsprekend begin aanvaar het. Die spelers het gewag dat dinge moet gebeur, in plaas daarvan om skeppende spel op te dis.”

Phillip Snyman (hulpafrigter) het ook nie doekies omgedraai nie en die spelers se bevoegdheid by die afbreekpunte bevraagteken.

“Ons het doodeenvoudig nie goed genoeg gespeel nie. Ons het oukei in ons wedstryd teen Kanada gevaar, maar teen Uruguay was ons hopeloos by die afbreekpunte en het glad nie ons balbesit beskerm nie,” het die voormalige Blitsbok-kaptein gesê.

Die Blitsbokke het goed in Dubai en in Sydney in die jongste reeks gespeel, maar hulle het in Hongkong en in Hamilton gesukkel terwyl hulle in Los Angeles heeltemal die kluts kwyt was.

Dalk is die kort blaaskans tussen die toernooie ʼn goeie ding; om te speel is immers veel beter as om aan vorige teleurstellings te dink.

  • Groepe vir die Vancouver-sewestoernooi:

Groep A: Nieu-Seeland, Samoa, Spanje en die VSA

Groep B: Argentinië, Frankryk, Suid-Afrika en Japan

Groep C: Fidji, Groot-Brittanje, Uruguay en Kenia

Groep D: Australië, Ierland, Kanada en Chili

  • Blitsbok-bepalings:

Suid-Afrika teen Frankryk (Vrydag om 22:14)

Suid-Afrika teen Japan (Saterdag om 04:38)

Suid-Afrika teen Argentinië (Saterdag om 23:26).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Fran ·

Dis vandat die span deur ‘We buy scrap cars’ geborg word dat hulle so sleg speel. Net ‘n dof ou koop ‘n kar by hulle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.