Blitsbokke jag sewessukses in Dubai

JC Pretorius is een van van die Blitsbokke se gevaarmanne. Foto: GB Jordaan

Daar wag ’n moeiliker uitdaging op die Blitsbokke wanneer die nuwe seisoen van Wêreldrugby se sewesreeks begin.

Nadat die Suid-Afrikaners sonder veel teenstand met die reekslouere in Kanada weggestap het, is Fidji weer deel van die aksie in Dubai.

Slegte nuus vir Neil Powell (afrigter) is dat Angelo Davids steeds op die krukkelys is nadat hy sy hand in die eindstryd van die Vancouver-toernooi teen Kenia gebreek het.

Die vlugvoetige Davids was vóór die ontydige besering ’n driedrukmasjien en hy het die rekord vir die meeste individuele drieë by dié toernooi verbeter.

Tog kan die Suid-Afrikaners op die ervaring van ’n Branco du Preez (75 toernooie) staatmaak, terwyl opwindende jong spelers soos Shilton van Wyk en Tiaan Pretorius hul buiging in die Verenigde Arabiese Emirate kan maak.

“Al is ’n hele paar spelers steeds onbeskikbaar weens beserings, sal ons graag op die momentum wat ons in Kanada gekry het, wil voortbou. Shilton en Tiaan se insluiting is deel van ons langtermynplan om meer diepte in die span te kry, terwyl ons terselfdertyd die spelers doeltreffend vóór ’n besige seisoen wil bestuur,” het Powell gesê.

Die Blitsbokke speel Vrydag (07:32) in hul openingswedstryd teen Ierland.

Indien die Blitsbokke na die bekereindstryd deurdring, sal hulle in die proses hul rekord van 16 agtereenvolgende wedstrydoorwinnings (wat hulle in 2008-’09 opgestel het) verbeter.

Volgens Siviwe Soyizwapi sien die span na die besige seweskalender uit.

“As ons goed in Dubai kan begin, sal dit ons selfvertroue vir die res van die toernooi ’n hupstoot gee. Ons hou daarvan om hier te speel, maar ons weet dat elke wedstryd ’n taai uitdaging is,” het die Blitsbok-kaptein gesê.

Blitsbok-groep: Christie Grobbelaar, Ryan Oosthuizen, Impi Visser, Zain Davids, Tiaan Pretorius, JC Pretorius, Branco du Preez, Selvyn Davids, Shaun Williams, Ronald Brown, Siviwe Soyizwapi, Muller du Plessis en Shilton van Wyk.

Bepalings:

Blitsbokke teen Ierland (Vrydag om 07:32)

Blitsbokke teen Japan (Vrydag om 11:24)

Blitsbokke teen Groot-Brittanje (Vrydag om 14:40)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.