Blitsbokke: Jonges spring weg met rekordsege

Groot tellings was aan die orde van die dag, en die drie indrukwekkendste vertonings het van die Blitsbokke, Fidji  en die All Blacks gekom.

Daar is Vrydag net een wedstryd deur elke span in hul groeprondes gespeel, met die ander twee wedstryde wat Saterdag aan die beurt kom. Sondag word die uitspeelwedstryde afgehandel.

Die Blitsbokke het Suid-Korea, wat op dié vlak heeltemal uit hul diepte was, met 45-0 afgeransel – Suid-Afrika se grootste oorwinning nóg in Hongkong.

Die klomp jong spelers, waaronder ses in die groep van 13 wat in Hongkong hul buiging in die Groen-en-goud maak, was indrukwekkend. Hul samespel was voortreflik, hul opsies baie goed en alles is op volle vaart gedoen.

Daar is gewis meer aan’t gebeure by die sewesakademie as waaroor sommer elke week in die verbygaan na verwys word.

♦  Die Blitsbokke speel Saterdag teen Engeland en Skotland in hul ander twee groepwedstryde.

Skotland lyk na ʼn moeilike klomp, selfs sonder hul bestes, en het met speeltyd reeds verstreke die welverdiende wendrie teen die Engelse gedruk.

Die jong Blitsbokkies sal Saterdag veral teen Skotland, sou jy dink, behoorlik gemeet word.

♦  Kenia het Kanada, (albei se beste spanne is by die Spele) met 33-10 verniel; Spanje het verras deur Australië, wie se gebrek aan diepte ooglopend was, met 17-12 geklop. Argentinië het Wallis se gebrek aan diepte ook onderstreep deur met 31-10 te wen.

Van die groot kanonne het Fidji – net twee punte onder Suid-Afrika op die reekspunteleer – Samoa eenvoudig uit die pad gevee en met 31-12 gewen, en die All Blacks het die sukkelende Rusland met 36-5 afgestof.

In die enigste wedstryd tussen twee nie-Statebondspanne, het die VSA se twee naellopers, Perry Baker en Carlin Isles, in die laaste twee minute drie keer gaan druk om met 24-elk teen Frankryk gelykop te speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.