Blitsbokke kou harde bene in LA

Die Blitsbokke het twee van hul drie groepwedstryde in Los Angeles verloor. Foto: Twitter.

Dit is neusie verby vir die Blitsbokke om met die HSBC-seweslouere weg te stap. Neil Powell se span het twee van hul drie groepwedstryde in Los Angeles verloor.

Die Suid-Afrikaners het in hul eerste kragmeting met 21 – 7 teen die VSA vasgeval, waarna hulle Kanada met 22 – 17 geklop het. Die nederlaag van 17 – 14 teen Nieu-Seeland was egter die laaste spyker in hul doodskis en hulle kan nie meer die reeks wen nie.

Natuurlik het ’n rits beserings die span gekniehalter. ’n Hele paar spelers was ná die Statebondspele op die krukkelys, terwyl Dewald Human en Zain Davids ook nou in Los Angeles beserings opgedoen het.

Tog het die Blitsbokke die dringendheid van ouds ontbreek en gans te maklik drieë afgestaan. In die laaste groepwedstryd teen die Kiwi’s – ’n wedstryd wat die Suid-Afrikaners met 12 punte moes wen om na die beker-kwarteindstryd deur te dring – is hulle binne ’n oogwink deur ’n agterstand van 17 – 0 in die gesig gestaar.

Muller du Plessis en Shilton van Wyk het darem vir drieë in die tweede helfte gesorg, maar toe was dit reeds te laat.

En om te dink dat die Suid-Afrikaners so te sê onstuitbaar aan die begin van die reeks was. Die Blitsbokke het vier toernooie op ’n streep gewen, maar hulle het stelselmatig begin stoom verloor.

Powell het die treurmare in Toulouse as die swakste vertoning nóg beskryf sedert hy die afrigtersleisels in 2013 vasgevat het.

Die Blitsbokke het toe teen Samoa, Ierland en Skotland vasgeval en hul wenvuur in die HSBC-reeks was geblus.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.