Blitsbokke kry darem ʼn troosprys

ʼn Halwe eier is seker maar beter as ʼn leë dop.

Of dit egter ʼn genoegsame troosprys is vir die grote wat (weer)  in die Sewes-Wêreldbekertoernooi weggekom het, is onwaarskynlik, maar die Blitsbokke het darem in die vroeë oggendure Maandag verras deur Fidji in die uitspeelwedstryd om die bronsmedalje met 24-19 te klop.

Die Blitsbokke se afrigter Neil Powell het erken dat dit skrale troos is, maar was nietemin trots dat die span darem iets het om vir hul harde werk te wys.

Ook is hy veral bly dat hulle Fidji oortuigend hokgeslaan het nadat die Fidjiane ses keer in die afgelope Sewesreeks teen Suid-Afrika gewen het.

♦ Dít was die derde van die vier verrassings in die halfeind- en eindronde van die Sewes-Wêreldbekertoernooi in San Francisco.

Eers het Engeland die Blitsbokke in die eerste halfeindwedstryde behoorlik pak gegee nadat die Blitse in die kwarteindstryd ʼn haas foutlose vertoning gelewer het; toe volg Nieu-Seeland met ʼn verrassende sege teen Fidji wat in vroeëre wedstryde onstuitbaar gelyk het met die Kiwi’s wat tot in daardie stadium maar so-so vertoon het.

En toe was dit weer Suid-Afrika se beurt om teen Fidji in die bronsmedalje-uitspeelwedstryd te verras voordat Nieu-Seeland in die finaal die rammetjie-uitnek Engeland ná hul oorwinning teen Suid-Afrika deeglik met 33-12 aarde toe gebring het.

Daarmee het die Nieu-Seelanders hul titel behou deur, soos in 2013, wéér vir Engeland in die eindstryd te klop.

♦  In dié spel waar klein marges die uitslag bepaal of die wedstryd se gang kan laat swaai, was Fidji miskien ietwat traak-my-nie-agtig teen die Blitsbokke ná dié se groot neerlaag teen Engeland en hul eie uitskakeling deur Engeland.

Die Blitsbokke was in ʼn stadium met 24-7 voor. Toe het Fidji teen die einde twee keer gaan druk om die eindtelling 24-19 te maak met die Blitsbokke wat vier drieë teen drie gedruk het.

Suid-Afrika se drieë is deur Philip Snyman, Zain Davids, Justin Geduld en Shakes Soyizwapi gedruk. Selvyn Davids en Geduld het twee keer verdoel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.