Blitsbokke lyk skerp in wegspring-wedstryd, Engeland kry pak

Natuurlik was dit nie teen ʼn grote nie, maar die agt drieë en wentelling na 52-0 teen Japan in die Blitsbokke se eerste groepwedstryd in Wêreldrugby se  Singapoer-sewestoernooi was ʼn goeie aanduiding van wat hulle kan doen.

Die hantering Saterdag was skerp, die lyne wat gehardloop is uitstekend en die oordeel van wanneer om uit te gee en wanneer nie het die Japanners deurmekaar gelaat. Werner Kok was sekerlik die speler van die wedstryd sou hulle so iets per wedstryd toeken en het twee goeie drieë met aftrappe gedruk; Shakes Soyizwapi het ʼn driekuns behaal waarvoor hy sy eie stukkies werk moes doen; en die jong Zain Davids met sy eerste drie, Sandile Ngcobo wat as plaasvervanger vir die beseerde Selvyn uit Suid-Afrika laat kom is en Dylan Sage met ʼn breekslag het ook agter die pale gekuier.

Die rustydtelling was 21-0 in ʼn wedstryd waar die Blitsbokke feitlik geen verdediging hoef te gedoen het nie.

♦  In een van die groot verrassings tot dusver in die huidige 2016/’17-reeks het die meestal wisselvallige Frankryk vir Engeland met 24-14 geklop en die Engelse onder groot druk geplaas om in groep B vir die kwarteind te kwalifiseer.

Maar was dit werklik ʼn verrassing? Frankryk het verlede week die Blitsbokke se ondersteuners ongemaklik laat rondskuif toe hulle net met 10-17 in Hongkong verloor het, en Engeland het die Singapoer-toernooi sonder drie gereelde spelers insluitende hul kaptein, Tom Mitchell, moes aanpak.

Die druk is nou op Engeland om nie net vir Japan oortuigend te klop nie, maar om ook teen Suid-Afrika te wen as hulle vir die kwarteindwedstryde in groep B wil kwalifiseer.

Doen hulle dit nie, is hulle kans om die reeks te wen – juis nie goed ná verlede week toe hulle nie die halfeind kon haal nie – daarmee heen en word dit ʼn tweestryd tussen Suid-Afrika en Fidji om reekslouere.

Ander vroeë tellings in die groepwedstryde –

Suid-Afrika 52 Japan 0, Engeland 14 Frankryk 24, Australië 19 Samoa 12, Argentinië 7 Kenia 22, Fidji 40 Hongkong 0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.