Blitsbokke maak dit drie na mekaar

worldrugby-sevens-logo-grootDie Blitsbokke moes Maandagoggend (SA tyd) nie net teen ʼn gemotiveerde Fidji in die eindstryd van Wêreldrugby se sewesreeks speel nie, maar moes ook ysige koue en ʼn wind van tot 110 km/h in Las Vegas baasraak.

Hulle het die riller wat drie sekondes voor die einde met ʼn rooikaart teen Fidji se Sevuloni Mocenacagi en ʼn onderonsie geëindig het, met 19-12 gewen en hulle vierde oorwinning in die eerste vyf toernooie van die reeks behaal. Dit was hulle derde opeenvolgende toernooisege.

Ironies genoeg het die Blitsbokke hulle enigste neerlaag in die vyf eindstryde tot dusver op hulle tuisveld in die Kaapstadse toernooi gely.

Hulle is nou by die halfpadmerk van die reeks en het 24 punte meer as Fidji op die reekspuntelys met nog vyf toernooie wat voorlê.

♦  Suid-Afrika, wat Maandagoggend saam met die wind afgeskop het, het gesukkel om hulle hande op die bal te kry. Uitstekende verdediging het die Fidjiane egter aan hulle doellyn gehou met die uitsondering van hul eerste drie vyf minute na die afskop.

Die individuele held in die wedstryd was Rosko Specman. Hy het ʼn skitterende drie met twee verbysterende aftrappe gemaak en self een na ʼn aftrap en sy vaart gaan druk.

Maar natuurlik is dit nie alles sy werk nie. Die Blitsbokke se ondersteuning en hantering in die wind was deurslaggewend. Uiters belangrik was dat hulle nie toegelaat het dat die Fidjiane hulle in die tweede helfte soos dikwels in die verlede van die bal by die afbreekpunte afstoot nie.

Die Fidjiane het hul eerste drie na net minder as drie minute gedruk toe Ruan Nel na omkeerbesit op die Bokke se doellyn geduik is en die bal uit sy hande opgetel is.

Die Blitsbokke het in die vyfde minuut met ʼn drie deur Cecil Afrika onder die pale geantwoord na Siviwe Soyizwapi na binne gebreek het en was rustyd 7-5 voor.

In daardie stadium het Fidji al 17 keer die bal hanteer teenoor Suid-Afrika se vier keer. Trouens, die Blitsbokke moes feitlik vier minute spook om noemenswaardige besit te kry.

Die bal wat deur Soyizwapi  na Afrika uitgegee is, het met die wind van agter twee meter vorentoe in die wind gedryf. Daar is egter geen twyfel nie dat die lang aangee agtertoe was soos die reël vereis.

Die wind was in die laaste ure van die toernooi so erg dat spanne met die afskop die bal oor die tienmeterlyn laat trek het, dit teruggewaai is en hulle ʼn meter of twee van die middellyn self die bal kon speel sonder dat ʼn teenstander dit geraak het.

Met sowat 90 sekondes van die tweede helfte verby, het Specman die bal agter ʼn losskrum opgetel, links gesystap, toe regs gesny en vir Chris Dry uitgegee wat onder die pale gedruk het (14-5).

Twee minute later het einste Specman die bal tussen sy kwart- en tienmeterlyn gekry, ʼn gaping aangeval, met ʼn systap van die regtervoet af oopte gevind en laat waai. Hy is 75 meter later in die linkerkantste hoek oor en die telling was 19-5.

Die Bokke het in die tweede helfte meer besit gehad en dit goed opgepas. Fidji het met hulle vaartversnelling en rigtingveranderings egter steeds die Suid-Afrikaners laat skarrel met twee man wat dikwels ʼn Fidjiaan grond toe gebring het.

Die damwal het egter na goeie spel van die Wittruie ingegee en Waisea Nacuqu is in die hoek oor. Die wind wat deurentyd geruk en beheer van die bal oorgeneem het, was egter nie genoeg om die suksesvolle doelskop te verhoed nie (19-12).

Fidji het sowat 20 sekondes gehad en moes eenvoudig die bal ná die afskop kry. Werner Kok is deur Sevuloni Mocenacagi onderdeur geloop toe hy vir die bal gespring het, het sy teenstander in  die gesig gestamp en ʼn onderonsie het uitgebreek.

Die Fidjiaan is met drie sekondes se speeltyd oor met ʼn rooi kaart afgestuur, die Blitsbokke het ʼn strafskop gekry, en die bal is sekondes later net na die toeter uitgeskop.

♦  In hulle halfeind moes die Blitsbokke uithaal om die VSA met 20-17 te klop terwyl Fidji net-net met 19-14 teen ʼn baie jong en onervare Nieu-Seeland gewen het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.