Blitsbokke met trots en durf deur na halfeindronde

Dít lyk mos na ʼn Springbokspan!

Die Blitsbokke het in ʼn mate vergoed vir die toetsspan se geploeter teen Wallis. Hulle het met durf en irriterend aggressiewe keerwerk teen Nieu-Seeland met 14-5 gewen en na die halfeindstryd van die Wêreldsewesreeks in Londen deurgedring.

Ná die sukkelvertonings Saterdag waar verdediging soms na ʼn bysaak gelyk het, en swak hanteerwerk en ʼn ietwat lustelose ondersteuning by die afbreekpunte saam met swak dissipline hulle heelwat gekos het, het Philip Snyman-hulle Sondag met durf en aggressie die All Blacks hokgeslaan.

Trouens, die oorwinning kan in groot mate aan die verdediging toegeskryf word, want die knaende geswerm van die Blitsbokke het die All Blacks ontsenu en tot talle foute gedwing wat dan met teenaanvalle uitgebuit is.

Hopelik sal dié gehalte spel in die halfeind (16:10) teen Engeland voortduur en verder verfyn word sodat die Blitsbokke later (hopelik) in die eindstryd (18:57) speel. Dit mag dalk sonder die beseerde Cecil Afrika en Branco  du Preez wees wat nie teen Nieu-Seeland gespeel het nie.

Engeland het die Aussies met 21-17 uitgeskakel.

In die ander halfeind speel die gunsteling Fidji, wat indrukwekkend in sy kwarteindwedstryd teen Kanada was en met 40-7 gewen het, teen die verrassing van die toernooi, naamlik die genooide span van Ierland.

Ierland het die VSA met 22-12 geklop.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willem ·

En die dag as die Bokke se naam na Proteas toe verander, dan lees ons van Die Blitsproteas!

John ·

As ons Sophia reg verstaan het, hoor ons (met permissie gese) dalkies meer abstrakte selfstandige naamwoorde op die stadions… Of sal ‘n paar potte lekker ryk boontjiesop die’ winter lewe pomp in die verwarde spul groen’tjies van Oom Rassie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.