Blitsbokke moet hulself regruk ná LA-ramp

Fidji se Josua Vakurinabili, druk ’n drie teen Suid-Afrika. Foto: Patrick T. Fallon/AFP.

“Die Blitsbok-embleem en ons ondersteuners verdien nie sulke spel nie.”

Dít is die woorde van Sandile Ngcobo nadat die Blitsbokke in Los Angeles skande gemaak het. Die nasionale sewesspan het onder meer teen Uruguay en Ierland in die groepfase verloor, waarna Fidji en Samoa wegholoorwinnings in die uitspeelwedstryde behaal het.

Volgens Ngcobo – wat die afrigterleisels vroeër by Neil Powell oorgeneem het – is die spelers se lustelose spel sy grootste bekommernis.

“Dit was amper hartverskeurend om dinge van langs die kantlyn dop te hou. Die spelers het lusteloos en sonder enige ywer op die veld gelyk,” het die nasionale sewesbreier gesê.

Die Suid-Afrikaners het ná die nederlae teen Uruguay en Ierland gehoop dat hulle met ʼn beter vertoning in die uitspeelwedstryde vorendag sou kom; hulle het egter 73 punte in hul wedstryde teen die twee eilandspanne afgestaan.

“Dit het gelyk asof die span dinge as vanselfsprekend begin aanvaar het en die spelers het gewag dat dinge moet gebeur; in plaas daarvan om skeppende spel op te dis.”

Hy het dit daarna weer eens beklemtoon dat Suid-Afrika nie só ʼn vertoning verdien nie en dat die span lank in die spieël sal moet kyk en selfondersoek doen voor die volgende toernooi in Vancouver.

“Ek moet myself afvra waarom ons so swak gespeel het en hoe ons weer op die wenpad kan kom. Ja, ons het in die eindstryd van die vorige toernooi in Sydney gespeel, maar dit is glad nie meer van toepassing nie; elke toernooi is immers ’n splinternuwe hoofstuk.”

Hy meen dat die teleurstellendste wedstryd van die toernooi teen Samoa was – ’n kragmeting wat die Blitsbokke met 45 – 5 verloor het.

“Ons het knaend balbesit op ’n skinkbord weggegee en ons het hopeloos te veel duikslae gemis. In my oë is ’n seweswedstryd 20% fisieke spel en 80% geestelike ingesteldheid en ons was pleinweg net nie opgewasse nie. Almal verdien ’n beter vertoning van die span.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Pietertjie ·

Mens kan nie jouself regruk as die ander span net mooi beter is op elke gebied nie. Kry eerder ander spanlede en probeer weer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.