Blitsbokke nie te blitsig in Parys

Foto: @WorldRugby7s/Twitter

Die Blitsbokke het hul ondersteuners weer byna die papelellekoors gegee nadat hulle in hul laaste groepwedstryd in die sewestoernooi in Parys met 19-17 teen Australië deurgeskraap het.

Nadat die Blitsbokke verlede Sondag deur die Aussies verniel is in die toernooi in Londen, was die wraak soet, maar of dit genoeg gaan wees om hul Franse titel te behou, sal daar diep oor geworstel word.

Die Blitsbokke was vroeg reeds met 14-0 voor, maar is toe aan die slaap gevang deur die Aussies wat twee keer gaan druk het.

Die Blitsbokke het oudergewoonte eerste in hul groep geëindig, en kom nou Sondag om 12:34 teen Samoa in die eerste kwarteindronde te staan.

Hoeveel keer in die verlede het hulle al wedstryde in die groepronde gewen, net om vas te val in die uitspeelrondes? Of is ʼn mens te kras op ʼn jong span wat nog besig is om op dreef te kom en hier en daar ʼn gebrek aan ervaring het, ondanks die deugde van Muller du Plessis, Cecil Afrika, JC Pretorius, Branco du Preez en Justin Geduld?

Die Blitsbokke het in hul tweede wedstryd teen Kenia voor rustyd ook nie oortuig nie en net met 12-10 voorgeloop. Maar toe hulle vlamvat, het die telling tot 29-12 opgeskuif.

Die Blitsbokke het hul eerste wedstryd teen Wallis met 22-7 gewen nadat hulle vier drieë gedruk het. Die Walliesers was vol vuur in die eerste helfte en het die Blitsbokke van besit weerhou, maar hulle kon nie daarmee volhou nie.

Vir die rekord, die Blitsbokke het Saterdag 70 punte aangeteken, maar ook 36 afgestaan.

Is dit genoeg om spanne soos die Fidjiane en die VSA (met Perry Baker en Carlin Isles weer terug in die saal) te klop, sal eers Sondag beantwoord kan word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koos ·

Geen probleem-Kaptein Flaf met sy kortmoutjies en important speeches gaan maalvleis terugkom

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.