Blitsbokke: Nou is dit vir mekaar

Hoe het dinge nie in ʼn jaar verander nie!

In hierdie einste toernooi in 2016 was die Blitsbokke ʼn haarbreedte van die sewes-wêreldkroon af toe hulle teen Skotland in die eindstryd van die Londense toernooi van dié reeks verloor het.

ʼn Oorwinning sou hulle bo die uiteindelike wenner, Fidji, op die algehele punteleer laat eindig het.

Draai die horlosie twaalf maande aan en Neil Powell se span het op die vooraand van die einste Londen-toernooi reeds die wêreldkampioenskap in hul sak.

Wat is daar om nog te bewys? ʼn Geskiedkundige sesde toernooi-sege sal beteken dat hulle in dieselfde asem as van die Nieu-Seelandse spanne, wat al dieselfde vermag het, genoem sal word. Daarbenewens is selfbehae alles behalwe sinoniem met hierdie span en dit is amper vanselfsprekend dat hulle alles in hul vermoë gaan doen om die reeks op die hoogste moontlike noot te eindig.

Hoewel die trane verlede jaar op Twickenham gevloei het danksy ʼn hartverskeurende drie ná die eindfluitjie reeds geblaas het, kan die Blitsbokke spog dat hulle in 2005 en 2011 koning in die land van die Rose gekraai het.

Hul teenstanders in die groepfase sal hulle ook nie ʼn slapelose nag gee nie, met Kenia, Wallis en die VSA wat Saterdag aangedurf word. Die Amerikaners op hulle dag moet egter nie te lig gekyk word nie.

Daar sal nietemin nie ʼn tekort aan motivering wees nie.

“Ons is rêrig ʼn span broers. Hierdie toernooi is die laaste waar ons as ʼn groep kan saamspeel en ons wil dit spesiaal maak,” het die Blitsbokke se spelskepper, Rosko Specman, gesê.

“Die druk om die reeks te wen is weg, maar ons is steeds onder druk deur onsself om ʼn vertoning te lewer waarop ons trots kan wees,” het hy bygevoeg.

Kyk uit vir Marco Labuschagne wat sy buiging vir die Blitsbokke sal maak indien hy as plaasvervanger speelkans kry. Powell het in die reeks toenemend geleentheid aan jong spelers gegee om hulle slaggereed te maak, en Labuschagne is die jongste toevoeging tot hierdie groepie.

Suid-Afrika se speeltye Saterdag –

12:20 – vs Kenia
15:26 – vs Wallis
18:32 – vs VSA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Veritas ·

Die samehorigheidsgevoel tussen die Blitsbokke, is die rede dat hulle so suksesvol is. Dit sal Alistair Coetzee loon om by Neil Powell te gaan kers opsteek oor sy metode hoe om dit te bewerkstellig. Die nasionale vyftienspan lyk eerder of hulle teen mekaar speel as saam.

Go Big ·

Gaan groot Blitz bokke. Geniet die wedstryde! Sooooo super trots op julle, beste SA Produk!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.