Blitsbokke ondanks neerlaag in die kwarteindronde

Die Blitsbokke is Vrydag, soos verwag is, deur na Saterdag se kwarteindronde van die Wêreldrugby-sewesreeks in Dubai, maar dit was nie ʼn dag waaroor hulle té breëbors sal loop nie.

Suid-Afrika het wel eerste in groep A geëindig ondanks hul nederlaag van 12-17 teen ʼn baie jong Argentinië, met drie 18-jariges in hul span, nadat hulle vroeg-vroeg met 12-0 in die wedstryd voor was.

Die Blitsbokke speel nou Saterdag 09:00 in die kwarteind teen Engeland, wat in moontlik die dag se beste wedstryd met 19-22 teen Australië verloor het.

♦ Die Blitsbokke is in hul laaste wedstryd teen Argentinië in die eerste helfte binne enkele minute drie keer vir hoogvatte gestraf en nog een, in die laaste minuut, het Shakes Soyizwapi ʼn geelkaart op die hals gehaal. Argentinië het van die strafskop af die wenpunte aangeteken.

Vroeër, so tussen die hoogvatte deur, is Impi Visser ook afgestuur toe hy die bal ná een  van die  hoogvat-strafskoppe weg van die teenstanders gerol het.

♦ Argentinië en Suid-Afrika het saam met Samoa gelyk met sewe ligapunte in groep A geëindig. Wanneer twee spane gelykop eindig, kry die een wat gewen het voorkeur. In hierdie geval het die punteverskil egter die deurslag gegee omdat die Blitsbokke teen Samoa gewen het, Samoa vir Argentinië geklop het en die Poemas met die Blitsbokke afgereken het.

In  hul eerste wedstryd het die Blitse met 31-0 teen Zimbabwe gewen wat daarna heelwat meer teenstand teen die ander twee spanne gebied het.

In die tweede wedstryd moes hulle hard teen Samoa werk om met 19-12 te wen.

♦ Dit is nog vroeg in die reeks, en al die spanne het nog met afronding en struktuur gesukkel. Wat verblydend van die Blitsbokke was, is dat hulle op die verdediging goed by hul gewone struktuur gehou het maar soms met die uitvoering misluk het.

Ook op die aanval was daar heelwat wat belofte vir die toekoms inhou, maar die skerpheid wat hul aanvalle gewoonlik kenmerk, was afwesig, en oordeel was nie altyd wat dit moes wees nie.

Hulle sal heelwat moet beter as gister om die Dubai-titel te behou, maar dit is moontlik. Die tekens was daar.

Wen die Bokke, speel hulle in die halfeindronde teen die wenner van die kwarteind-wedstryd tussen Nieu-Seeland en Skotland.

Saterdag se ander kwarteind-wedstryde is tussen Nieu-Seeland en Skotland (09:22), Australië teen Argentinië (09:44) en Fidji teen die VSA (10:06).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frans C ·

Dit is jammer dat ‘n paar van die statmakers nie langer beskikbaar is nie en op die 15 manspel besluit het.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.