Blitsbokke onder druk na twee naelskraapse seges

Twee naelskraapse seges met 12-10 teen eers Kenia en toe Wallis, waar albei spanne hulle doelskop na die toeter verbrou het, het die Blitsbokke Saterdag in Londen onder groot druk geplaas.

In albei gevalle was die Blitsbokke agter voordat hulle gekliek en met 12-5 voorgeloop het. In albei wedstryde het die teenstanders met die laaste beweging langafstanddrieë naby die pale gedruk en elke keer was die maklike doelskop mis.

Suid-Afrika se derde groepwedstryd, teen die VSA wat om 18:32 begin, is na Wallis se verrassende oorwinning met 28-12 oor die Amerikaners skielik van groot belang vir die Blitsbokke om die kwarteind te haal.

Die VSA het 47-0 teen Kenia gewen wat geen belangstelling in hierdie wedstryd getoon het nie.

Wallis het die VSA geklop, Suid-Afrika het Wallis geklop – en Suid-Afrika en die VSA het tot dusver met Kenia afgereken.

Klop Wallis vir Kenia, en die Blitsbokke verloor in die wedstryd daarna teen die Amerikaners, is die drie spanne gelyk met twee oorwinnings op die puntelys.

In die reeks is die wenner, wanneer twee spanne gelyk op die punteleer is, die wenner van die wedstryd tussen die gelyke spanne twee die hoogste op die puntelys en tel punteverskil nie.

In hierdie geval sal dit nie gedoen kan word nie. Gaan die VSA dan bo Suid-Afrika geplaas word maar Wallis bo die VSA en Suid-Afrika bo Wallis?

Natuurlik nie! Punteverskil sal dus deurslaggewend wees. Tans, na twee wedstryde, lyk dít nie goed vir die Blitse nie.

Die VSA se punteverskil is 31, dié van Wallis is 14 met die Bokke wat ʼn batige punteverskil van net vier het (wat natuurlik sal verminder as hulle teen die Yanks sou vasval).

In albei Saterdag se amper-gelykopwedstryde was daar te veel los aangeë wat die teenstanders hardloopkans gegee het.  Oor die Blitse se baklei vir besit by afbreekpunte en in die algemeen die verdediging, kan daar egter nie gekla word nie.

Dis egter nou daardie verlore aangeë en drie met hul gepaardgaande punteverskil wat die Blitsbokke kan kelder …

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.