Blitsbokke: oorgerustheid en uitputting Powell se kommer

worldrugby-sevens-logo-grootDie Blitsbokke se nuwelinge het die een na die ander gewys dat hulle opgewasse is. Dit kan Saterdag en Sondag in die Vancouver-toernooi van Wêreldrugby se sewesreeks weer die geval wees.

Maar daar is die kommer van uitputting wat die afrigter Neil Powell pla. Mense – en dit sluit ook rugbyspelers in – wat nog nie aan ʼn tweedaagse sewestoernooi deelgeneem het nie, kan hulle nie die fisiese vereistes wat dit stel indink nie.

Om dit twee weke na mekaar te herhaal en steeds op jou beste te wees, is dalk die naweek die vernaamste uitdaging.

Ondanks hulle fiksheid, waarskynlik die beste in die reeks danksy die afrigtingspersoneel en strukture op Stellenbosch waar hulle voorberei, sal die Blitsbokke ook die geestelike uitdaging hê om boaan Wêreldrugby se puntelys te bly.

Dit is menslik om so effens oorgerus te raak as jy keer op keer wen. Powell is maar alte bewus daarvan.

“Almal vertel jou ons het die reeds reeds gewen. Niks kan verder van die waarheid wees nie.

“Een slegte toernooi kan ons ontspoor. Die laaste ding wat ek wil hê is dat die spelers dit (die Vancouver-toernooi) as ʼn vyfde toernooi-oorwinning sien,” het hy op die vooraand van die sesde toernooi in die reeks van tien gesê.

Die Blitsbokke fokus dus op die eerste wedstryd Saterdagaand (21:20 SA tyd) teen Chili, wat nie eers een van die kerngroep spanne in die reeks is nie en net aan twee toernooie as genooide deelneem.

Ironies het Chili hul enigste kragmeting dusver met Suid-Afrika gewen. Dit was in 2000 en die telling was 28-21 in die groepwedstryd in Punta del Este in Uruguay

♦  Die Blitsbokke speel die naweek sonder hulle twee voorste puntemakers in die huidige reeks, Seabelo Senatla (wat nou Superrugby speel) en Justin Geduld wat verlede week in Las Vegas beseer is. (Sien die statistiek hieronder.)

Engeland is saam met Kenia en Chili in dieselfde groep as Suid-Afrika geloot. Die Blitsbokke het in hulle vyf toernooie nog net twee keer in 30 wedstryde verloor – albei kere teen Engeland. Een van dié wedstryde was in die eindstryd in Kaapstad, die enigste van die toernooie wat die Blitse nie gewen het nie.

Na vyf toernooie, die halfpadmerk, is Suid-Afrika (107 punte) gerieflik met 24 punte voor Fidji (83), wat twee voor Engeland (81) is.

♦  Die toernooi begin Saterdagaand 19:30

Tye van Suid-Afrika se groepwedstryde –

Saterdag:
21:20 vs Chili

Sondag:
00:56 vs Kenia
04:36 vs Engeland

Die uitspeelwedstryde begin Sondagaand 19:30.

♦  Interessante statistiek (verskaf deur SA Rugby) –

Voorste puntemakers
1. Seabelo Senatla 160
2. Justin Geduld 119
3. Branco du Preez 102
4. Werner Kok 75
5. Cecil Afrika 60

Voorste driedrukkers
1. Seabelo Senatla 32
2. Werner Kok 15
3. Justin Geduld 13
4. Rosko Specman 11
5. Chris Dry 11

Doelskoppe
1. Branco du Preez 41
2. Justin Geduld 27
3. Cecil Afrika 10

Duikslae
1. Chris Dry 81
2. Philip Snyman 76
3. Werner Kok 72

Spandrieë
1. Suid-Afrika 129
2. Fidji 126
3. Engeland 97

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.