Blitsbokke: Oues en jonges se samespel hou sleutel

Om as ʼn eenheid te speel, is die doelwit. Ook om met ʼn bietjie meer vryheid te speel, soos die jong spelers wat in Hongkong die bronsmedalje gewen het en net-net deur Fidji in die halfeind van hoër louere weerhou is.

Sewe van die jong helde van Hongkong word die naweek in Wêreldrugby se Singapoer-toernooi saamgevoeg met van die oueres wat by die Statebondspele nie ʼn medalje kon wen nie.

Ja, die manne oefen in Stellenbosch saam, en samespel Saterdag en Sondag word dus sommerso as vanselfsprekend aanvaar.

Daar mag egter in die toernooi dalk, net dalk, die neiging wees om dit as ʼn soort proefwedstryd te benader met die wete dat die afrigtingspan vanjaar geoormerk het vir die identifisering van opvolging.

En van die oueres veg nou om daar te bly.

Sewes se grootste uitdaging bly goeie aanvalshantering en -opsies, en ʼn verdedigingspatroon wat nie maklik lek nie. Dít verg samespel.

Die gehalte, by die “ou” manne en die nuwe rammetjies, is ongetwyfeld daar. Hulle moet dit net reg verpak, en dan vir die ratse snellers gee om gapings te slaan soos net die Blitsbokke dit kan doen.

Hulle is tot dusver bestendig in hulle toernooiuitslae, maar nie in individuele wedstryde nie. Dié dat hulle ná die oorwinning in Dubai, hul enigste tot dusver, nog deurgaans ná sewe van die tien toernooie in die eerste plek op die reekspunteleer is – ʼn skrale drie voor Fidji wat al twee keer gewen het.

Die Blitsbokke se ligapunte het gekom van drie verlooreindstryde, twee derde plekke en ʼn vierde plek.

Wen is van nou af dus nodig, en dít wat ʼn mens al die hele jaar oor die span se vertonings pla, moet dringend reggestel word. Vanjaar het hulle dán goed, dán middelmatig, gespeel – dikwels sommer in dieselfde wedstryd.

Dit móét in Singapoer en in die laaste twee toernooie in Londen en Parys oor die eerste twee naweke in reggestel word.

Die Blitsbokke speel Saterdag in groep C teen Samoa (06:06), Kanada (09:34) en Argentinië (13:00).

Blitsbokke –

Heino Bezuidenhout, Ryan Oosthuizen, Kyle Brown (kapt.), Zain Davids, Dylan Sage, Rosko Specman, Selvyn Davids, Cecil Afrika, Werner Kok, Stedman Gans, Muller du Plessis, Shakes Soyizwapi en James Murphy (reserwe).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.