Blitsbokke pak Kanada in kwarteind

Die Blitsbokke in aksie teen Skotland. (Foto: Twitter/ Blitzboks)

Die Skotte het nie geweet wát hulle tref toe die Blitsbokke hulle Saterdagmiddag in Coventry stormgeloop het nie.

Die Blitsbokke het Skotland 34 – 0 gewen in hul laaste groepwedstryd en só na die kwarteindronde deurgedring.

Die Skotte, wat voor die kragmeting onoorwonne in hul twee groepwedstryde was, het geen antwoorde gehad vir die vaart en skeppende vermoë van Angelo Davids, Selvyn Davids, Ronald Brown, Dewald Human en JC Pretorius nie.

Jare gelede, toe Gordon Tietjens die Nieu-Seelandse sewesspan met groot welslae afgerig het, het hy altyd gesê dat jy nooit skop in sewesrugby nie, net in karate.

Hoe het dinge nie verander nie, want een van die Blitsbokke se gevaarlikste wapens is nou hul slim skoppe oor die aanstormende teenstanders se koppe, wat tot drieë lei.

Suid-Afrika kan altyd een van die toonaangeërs in sewesrugby wees solank daar vaardige spelskeppers met groot harte en tonne vaart is.

Dit is hoekom die Suid-Afrikaanse sewesspan die doelpale die afgelope paar jaar gereeld verskuif het.

Die Blitsbokke, wat onoorwonne in Groep B was, kom in laat Saterdagaand se kwarteindstryd teen Kanada te staan, wat tweede in Groep C geëindig het. Fidji, wenner van Groep C, speel teen Skotland.

Puntemakers:

Suid-Afrika 34 (10): Drieë: Selvyn Davids, JC Pretorius, Angelo Davids (3), Shaun Williams. Doelskoppe: Selvyn Davids, Dewald Human. Skotland 0.

Ander uitslae Saterdag (mans): Uganda 40, Jamaika 0; Australië 7, Kenia 5; Samoa 44, Sri Lanka 0; Nieu-Seeland 20, Engeland 0; Tonga 31, Maleisië 7; Kanada 24, Zambië 12; Fidji 38, Wallis 24.

Vroue stel teleur

Terwyl daar groot vreugde in die Suid-Afrikaanse kamp is oor die mans se vertonings, skiet die vroue-span tekort.

Die Skotte se vroue-span het Suid-Afrika in hul laat groepwedstryd met 33 – 12 geklop.

Suid-Afrika het ook Vrydag op die eerste dag met 0 – 38 teen Australië en 0 – 41 teen Fidji verloor.

Hulle het in drie groepwedstryde 112 punte afgestaan en kon net 12 punte aanteken.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.