Blitsbokke: Powell tevrede met span se vordering in herboufase

Neil-Powell.jpg

Neil Powell (Foto: ur7’s.com)

Om teen Fidji te verloor, is altyd hartseer maar nie noodwendig ʼn skande nie.

Saterdag egter, met die neerlaag van die Blitsbokke in die “finaal” van die uitspeel om die vyfde plek, het dit ekstra seergemaak. Fidji het die wenpunte in ekstra tyd aangeteken en met 24-19 gewen.

Dit het seergemaak omdat die Blitsbokke, ondanks hul goeie voorbereiding en met alle lof en begrip aan die afrigter Neil Powell met sy opvolgbeplanning, in dié wedstryd die soveelste keer in die 2018-Dubai-toernooi van Wêreldrugby se sewesreeks nie oortuig het nie.

Ja, hulle was goed om Skotland met 29-0 te klop vir die reg om in die “eindstryd” om die vyfde plek te kon uitspeel, maar met ʼn neerlaag met 5-25 teen Engeland in die kwarteindronde ná die neerlaag teen Argentinië en die deurskraap met 19-12 in ʼn harde wedstryd teen Samoa in die groepronde, wag daar onteenseglik  probleme.

Ja, dit ís die eerste toernooi, en ja, ʼn man soos Cecil Afrika moet nog terugkeer. Die realiteit is egter dat die ervaring en gehalte van manne soos Kwagga Smith, Dylan Sage, Seabelo Senatla, Ruan Nel, Tim Agaba en Rosko Specman, wat in Dubai een van dié uitblinkers was, maar in Februarie by die Bulls inval, nie sommer net so met opvolgbeplanning gevul kan word nie.

Hulle het gehalte, ervaring en heelwat individuele sterkpunte gehad, soos byvoorbeeld Senatla se vaart, die werkywer en aanvoeling van Page voorlangs, die krag van Nel tussen die snellers, en Smith wat eenvoudig oral was om  te keer en dan by te wees met die aanvalswerk.

Powell is uiteraard teleurgesteld, maar nietemin tevrede met die vordering wat in die toernooi gemaak is en ook met sekere aspekte van hul laaste twee wedstryde.

“Dat ons sonder enige toernooi-ervaring Dubai toe is, het dalk teen ons getel. Ons het, soos die toernooi gevorder het, ons wedstryde vir langer periodes begin beheer en ek is baie tevrede daarmee.

“Die realiteit is dat ons in ʼn effense herboufase is ná die vertrek van ʼn aantal senior spelers en dit sal ʼn tydjie neem voordat ons weer op ons beste is.

“Ek is tevrede dat daar vordering was en daar sal aanstaande naweek in Kaapstad nog verdere vordering wees,” het Powell gesê.

♦ Die span se kaptein, Philip Snyman, was veral teleurgesteld met die uitvoering van die basiese dinge in die eerste vier wedstryde, maar sê sake het teen Skotland en Fidji meer volgens plan verloop.

♦ Nieu-Seeland het die toernooi gewen nadat hulle in die halfeindwedstryd bykans vier minute, drie daarvan ná tyd reeds verstreke was, die een aanval ná die ander van Engeland moes absorbeer voordat hulle met 7-5 gewen en vir eindstryd gekwalifiseer het.

Australië is ook eers ná die eindtoeter geblaas het deur die VSA met ʼn goeie drie uitgeskakel.

In die eindstryd was Nieu-Seeland egter heeltemal te sterk vir die Amerikaners en het hulle die eerste titel  van die seisoen met 21-5 beklink ‒ die eerste keer sedert 2009 dat hulle dit in Dubai kon regkry.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

Dat spanbou in enige sport ‘n proses oor ‘n lang tydperk is,is al menigmaal bewys.Jy vervang nie sommer 6 spelers in enige span nie.Dat die Blitsbokke nog presteer wys dat Powell en die 7-akademie op die regte pad is.
Suid Afrika het van 28 spelers,die meeste van alle lande gebruik gemaak om die titel te wen, maar gaan mi sukkel om dit met die verlies van ervare spelers dit te verdedig.

Frans C ·

Almal na die 15 man kode.As ‘n Blitsbok reis jy die wêreld vol. Speel jy vir ‘n 15 man span.kan jy ‘n gesin begin en jou plaaslik of oorsee vestig.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.